GRAAFF-REINET NUUS - Engeland het vir Jamie Olivier en Gordon Ramsay om Britse kookkuns op televisie te demonstreer. En doer onder is Master Chef Australia sekerlik een van die gewildste programme op werklikheidstelevisie.
Maar 'n splinternuwe leefstylreeks Karoo-kombuis, wat pas op kanaal 147 op Via gebuig het, plaas Graaff-Reinet én die haai Karoo vierkantig in die kollig in Suid-Afrika.
Dis plaaslike Karoo-kokke, Karoo-kos en Karoo-eetplekke wat stervertonings in dié Karoo-sepie lewer en mense behoorlik aan die gons het.
Almare Fourie, eienaar van die bekende Pioneers Restaurant in Graaff-Reinet, is die gasaanbieder van Karoo-kombuis en sy was ook die kok in die eerste program wat verlede Donderdag uitgesaai is. Sy en die legendariese ant Clara Jantjies het omelette gemaak terwyl Almare ook skilpadjies met skaapspek voorberei het.
Almare sê die CoolerBox Brothers het mense op Via uitgenooi om 'n kort video in te stuur oor hul koseskapades waarin hulle hulself moes promoveer. "Pieter Pienaar van Montego het die video geskiet en toe ek my oë uitvee word ek gevra om Karoo-kombuis saam met 'n klomp plaaslike sjefs aan te bied."
Twee van die plaaslike akteurs wat in Karoo-kombuis hul slag wys. Ria Fivaz (links) het die dekor van al 13 episodes behartig terwyl Almare Fourie (regs) die gasaanbieder van die splinternuwe leefstylreeks is en sy kook ook saam met plaaslike kokke.
Sy sê Karoo-kombuis is daarop gemik om kykers blootstelling te gee aan die wonders wat die Karoo bied. In dié program kan ons ons liefde vir die Karoo, sy mense en sy verskeidenheid eiesoortige kosse met ander deel. Ons kook net met egte Karoo-produkte, soos lamsvleis, wildsvleis, veldkos en natuurlik Karoo-varkvleis.
Ons berei nie kos voor wat verstrengel is in tierlantyntjies nie. Dis onopgesmukte tradisionele Karoo-disse wat deur plaaslike gaskokke - en 'n paar uitmuntende sjefs - voorberei word. Almal mense met dieselfde passie vir die Karoo.
Die episodes word by verskillende restaurante, gastehuise en selfs op 'n plaas en die bekende Drostdy Hotel in Graaff-Reinet opgeneem. Elkeen het sy eie tema en spog met 'n spesiaal gedekte tafel vir ses genooide gaste."
Almare kuier lekker saam met die gaste terwyl sy agter die kospotte staan. Sy sê dis 'n "hartlike eetritueel wat hom afspeel in verskeie lokale met spesiale dekor en met almal in 'n ontspanne luim."
Die kunssinnige Ria Fivaz, wat die Aa'Qtansisi-gastehuis besit, het die dekor van al dertien episodes behartig en haarself oortref, sê Almare.
Die tweede episode van Karoo-kombuis speel hom af in Reinet-huis. Dis 'n tradisionele braaivleis met 'n onderwys-verbintenis daarby aangehak.
Maar kom kyk gerus op Via vandag (10 Junie) om 17:00 op kanaal 147 op DSTV daarna om te sien wie is die plaaslike genooide gaste wat gaan aansit vir 'n heerlike Karoo-kuier.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'