KAROO NUUS - Dit sit nie sommer in enigeen se broek om 2 900 kilometer per fiets vir 'n goeie saak af te lê nie. As jy boonop afgetree is, verg dit mannemoed.
Maar twee Karoo-brekers, Gerhard Botes en Deon Viljoen, het dié uitdagende fietsrit van 2 900 km deur die Karoo en die Noord-Kaap binne 59 dae voltooi om groter bewustheid vir geslagsgebaseerde geweld (GGG) te skep.
Dié twee afgetredenes het op Vrydag 9 April op die plaas Bovlei in die Noupoort-distrik in die Karoo vertrek. Op die roete het hulle eerste na Springbok vertrek. Daarna het hulle by, onder andere, Colesberg, Philipstown, Hopetown, Kimberley, Griekwastad en Upington ingeloer.
Op hulle terugtog het hulle by Calvinia, Williston en De Aar aangedoen en het die toer in Hanover afgesluit.
Deon Viljoen (links) en Gerhard Botes vat 'n blaaskans.
Dié opwindende inisiatief is in vennootskap met die nie-winsgewende maatskappy, Yellow for Survivors, gedoen wat in 2019 deur Leilani Kuter gestig is om aan oorlewendes van verkragting en geslagsgebaseerde geweld hulpbronne en veilige ruimtes beskikbaar te stel om so ondersteuning te bied wat slagoffers nodig het om te genees.
Leilani is 'n teenverkragtingsaktivis wat in 2019 729 km en in 2020 448 km gestap het om die publiek bewus te maak van geslagsgebaseerde geweld en om fondse vir verkragtingskrisisorganisasies te genereer.
Oor die uitdagings van die fietsrytog het Botes gesê "steil lang opdraandes was nogal 'n uitdaging gewees, veral met die swaar sleepwa wat jy agter jou moes aansleep. Al het dit gevoel of iemand die heeltyd teen jou rem is dit niks wat ons nie kon oorkom nie.
"Wat 'n voorreg om dit op 67-jarige ouderdom aan te pak - en dit nog boonop vir 'n verdienstelike saak soos Yellow For Survivors!"
Deon Viljoen (links) en Gerhard Botes by Hakskeenpan.
Viljoen het lof gehad vir die groot vragmotors en die taxi's wat hulle op die oop pad gerespekteer het. "Die bestuurders het deur die bank wyd om ons gery en boonop gegroet deur op hul toeters te druk en vriendelik te waai.
"Die mense met wie ons oral gesels het, was veral verbaas oor ons hoë ouderdom van 67. Hul reaksie was een van verbasing, maar hulle het ons entoesiasties aangespoor en ons hartlik bedank vir wat ons doen. Sommige het beloof om 'n finansiële bydrae te maak. Omtrent almal het ook gevra of ons nie bang is nie? Dan het ons eenvoudig 'nee' gesê, ons is mos van die Karoo af."
Botes ondersteun Leilani vanaf haar eerste staptog in 2019 en is sedertdien tydens haar stapveldtogte haar kameraman, entoesiastiese aanmoediger en beskermengel.
Leilani sê sy is ongelooflik trots op Gerhard en Deon en dankbaar dat hulle bereid was om hierdie grootste uitdaging aan te pak. "Hulle het net weer bewys dat niks onmoontlik is nie. Die geld wat deur hul veldtog ingesamel is sal aan skuilings geskenk word wat slagoffers van GGG bystaan, soos Huis Jabes in die Kaap en Hands On Africa in Middelburg.
"Tot dusver is net oor die R25 000 ingesamel van hul R50 000-doelwit en ons is vol moed dat ons die teiken gaan bereik. Donasies kan steeds gemaak word deur middel van die skarebefondsingsplatform Back A Buddy of mense kan die webwerf www.yellowforsurvivors.co.za besoek om 'n donasie te maak," sê Kuter.
59 dae en 2 900 kilometer later by die eindpunt by Hanover.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'