KAROO NUUS - Dit sit nie sommer in enigeen se broek om 2 900 kilometer per fiets vir 'n goeie saak af te lê nie. As jy boonop afgetree is, verg dit mannemoed.
Maar twee Karoo-brekers, Gerhard Botes en Deon Viljoen, het dié uitdagende fietsrit van 2 900 km deur die Karoo en die Noord-Kaap binne 59 dae voltooi om groter bewustheid vir geslagsgebaseerde geweld (GGG) te skep.
Dié twee afgetredenes het op Vrydag 9 April op die plaas Bovlei in die Noupoort-distrik in die Karoo vertrek. Op die roete het hulle eerste na Springbok vertrek. Daarna het hulle by, onder andere, Colesberg, Philipstown, Hopetown, Kimberley, Griekwastad en Upington ingeloer.
Op hulle terugtog het hulle by Calvinia, Williston en De Aar aangedoen en het die toer in Hanover afgesluit.
59 dae en 2 900 kilometer later by die eindpunt by Hanover.
Dié opwindende inisiatief is in vennootskap met die nie-winsgewende maatskappy, Yellow for Survivors, gedoen wat in 2019 deur Leilani Kuter gestig is om aan oorlewendes van verkragting en geslagsgebaseerde geweld hulpbronne en veilige ruimtes beskikbaar te stel om so ondersteuning te bied wat slagoffers nodig het om te genees.
Leilani is 'n teenverkragtingsaktivis wat in 2019 729 km en in 2020 448 km gestap het om die publiek bewus te maak van geslagsgebaseerde geweld en om fondse vir verkragtingskrisisorganisasies te genereer.
Oor die uitdagings van die fietsrytog het Botes gesê "steil lang opdraandes was nogal uitdaging gewees, veral met die swaar sleepwa wat jy agter jou moes aansleep. Al het dit gevoel of iemand die heeltyd teen jou rem is dit niks wat ons nie kon oorkom nie. Wat voorreg om dit op 67-jarige ouderdom aan te pak - en dit nog boonop vir 'n verdienstelike saak soos Yellow For Survivors!"
Viljoen het lof gehad vir die groot vragmotors en die taxi's wat hulle op die oop pad gerespekteer het. "Die bestuurders het deur die bank wyd om ons gery en boonop gegroet deur op hul toeters te druk en vriendelik te waai.
Lees meer in Donderdag se Graaff-Reinet Advertiser.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'