ABERDEEN NUUS - 'n Weghol karavaan het Maandag 5 Desember in Hoopstraat teen 'n boom gebots. Dit het gebeur sonder dat die karavaan eers met ander voertuie gebots het.
Hoopstraat vorm die hoofverbintenis tussen Aberdeen-dorp aan die eenkant van die Kraairivier en Thembalesizwe en Lotusville aan die anderkant van die rivier.
Dié straat is ook die voerpad tussen Klipplaat en Jansenville en Aberdeen. Hoopstraat is een van die besigste voetgangerstrate in Aberdeen, sonder enige sigbare veiligheidsmaatreëls vir voetgangers.
Boonop is Hoopstraat ook 'n gewilde roete wat kinders daagliks stap tussen hulle woonplekke en die skole.
Volgens ooggetuies het die bestuurder van 'n voertuig, wat 'n karavaan gesleep het, teen 'n spoed oor die brug aangery gekom in die rigting van die dorp.
Die motor het 'n ongelykheid in die padoppervlak getref en die karavaan het van die voertuig losgekom en oor die straat gespoed.
Dieselfde ooggetuies vertel voorts dat 'n minderjarige voetganger nét betyds uit die aanstormende karavaan se pad kon spring. "Was daai kind nie so wakker en so rats nie, het die karavaan vir hóm boom toe gevat!" het die een ooggetuie beskryf. Geen strafregtelike saak is teen die bestuurder geopen nie.
Inwoners van die hele Aberdeen pleit al geruime tyd vir beter spoedbeheermaatreëls in onder andere Hoopstraat. Aberdeen beskik egter nie oor munisipale verkeersbeamptes nie. Soos dit gebeur het, was lede van die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit op dieselfde dag in vergadering met inwoners van Aberdeen, juis oor toepassing en verskerping van verkeersmaatreëls - veral spoedbeheer - in Aberdeen.
Die karavaan waar dit die boom getref het . Foto: Verskaf
Die veelbesproke Hoopstraat by die brug waar motoriste hulle dikwels misgis met die ongelykheid van die padoppervlak.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'