GRAAFF-REINET NUUS — Laer Volkskool het aan die begin van die 2018-skooljaar afgeskop met hul ‘6 Pilare van Karakter’-veldtog.
Die doel van dié jaarlikse karakteropvoeding is om by leerders die onderskeidingsvermoë en selfdissipline om in elke situasie te kies wat reg is te kweek.
Karakteropvoeding is geïntegreer in die daaglikse aktiwiteite van elkeen in die skoolgemeenskap - dit is nie beperk tot ‘n praatjie hier en daar of saalopening nie en die onderwyser gebruik elke leeroomblik wat opduik – in die klas, in die gang, in die snoepie, op die speelgrond of die sportveld.
Dit betrek die leerder in sy geheel: hoof, hart en hand.
‘n Sterk karakter bestaan uit morele kennis, morele gevoel en morele gedrag. Leerders met ‘n goeie karakter ken die goeie, gee om daarvoor en het die wilskrag om te doen wat hulle glo reg is, ten spyte van versoekings en selfs onder druk van buite.
De skool het Dinsdag met die karakter-pilaar van ‘respek’ begin. Dit volg kort op die hakke van ‘betroubaarheid’.
Dit sluit in respek vir self en vir ander mense. As die kinders kan leer om mekaar waarlik te respekteer, behoort sosiale euwels soos misdaad nooit eens kop uit te steek nie.
Die kinders kon elk ‘n sleutelhouer aanskaf met die woord ‘respek’ op - die geld wat deur die sleutelhouer-verkoping ingesamel word, sal ten bate van die Graaff-Reinet Kankervereniging en die Beskermde Werkplek aangewend word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'