NASIONALE NUUS - Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het op Mandeladag hul Kansa-teleberadingsdiens bekendgestel.
Hierdie diens bied vertroulike, professionele, kankerverwante telefoniese berading aan kankerpasiënte, versorgers en hulle families, asook die ouers of voogde van kinders wat met kanker leef.
Berading is in sewe tale beskikbaar (Engels, Afrikaans, isiXhosa, isiZulu, siSwati, Sesotho en Setswana) en is heeltemal gratis.
Volgens Adri Odendaal, gemeenskapsmobiliseerder van Kansa: Oudtshoorn-tak, is daar opgeleide beraders wat kan help wanneer die hulplyn geskakel word.
"In Oudtshoorn vind ek dat daar wel ‘n behoefte is vir die diens en dat daar wel mense is wat hulp nodig het, maar terselfdertyd anoniem wil bly. Ek glo dat mense goeie ondersteuning sal kry indien hulle van die nuwe diens van Kansa gebruik maak."
Volgens haar is kanker nie net 'n fisiese stryd nie, maar ook geestelik en emosioneel.
"Daar is so baie kankerlyers wat hard baklei, maar almal het soms hulp nodig. Diegene wat hulle ondersteun het ook soms hulp nodig, maar hulle weet nie altyd waar om die hulp te kry nie omdat hulle juis die mense is wat veronderstel is om sterk te wees. Ons telefonieseberading is juis vir die wat net 'n bemoedigende woordjie nodig het of net 'n skouer nodig het waar hulle sonder skaamte kan huil."
In Oudtshoorn het Odendaal blik geskud om fondse vir Kansa in te samel.
"Ons het ook voor Spar blikkies geskud vir Mandeladag en het terselfdertyd begin met veterverkope van Tekkie Tax wat op 31 Julie plaasvind.
In Oudtshoorn is daar 'n spesiale aanbod waar diegene wat belangstel een paar veters vir R40 kan koop en een paar heeltemal gratis kry. Die plakkers is R10 en die wapens is ook R10."
Odendaal sê fondse wat ingesamel word gaan aan die ondersteuning van kankerpasiënte.
Om van die diens gebruik te maak skakel 0800 226 622 of Odendaal by 072 133 0444 of stuur 'n e-pos aan aodendaal@cansa.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'