KAROO NUUS - Kamdebo Primêr in Lotusville, Aberdeen het op Vrydag 13 Oktober hul eerste ooit klank- en spelfees aangebied.
Leerders van gr. R tot 7 het deelgeneem. Die fees het behels dat leerders van gr. R tot 3 woorde moes klank, terwyl leerders van gr. 4 tot 7 woorde moes spel.
Alhoewel al die deelnemers die gehoor beïndruk het, was dit veral die jongspan in die grondslagfase wat grootmense gaande gehad en harte gesteel het met hulle klankvaardighede.
“Leerders het hard geoefen voor dié fees en elke leerder het hul plek op die verhoog verdien. Die doel van die fees is juis om leerders se woordeskat te verbreed, asook om hulle kommunikasievaardighede en selfvertroue te bevorder,” verduidelik Kelly Februarie, onderwyser verbonde aan Kamdebo Primêr.
Die skool beoog om die fees as 'n jaarlikse gebeurtenis te vestig, maar ook om dit uit te brei met ‘n Engelse-spelfees - vanjaar se fees het op Afrikaans gefokus.
Die Kamdebo Primêr-spelfees is deur klein en groot bygewoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’