ABERDEEN NUUS — Aberdeen VLV se mees onlangse vergadering het op Leefstyl gefokus.
Leefstyl-sameroeper Carina Esterhuizen het die byeenkoms geopen waarna sy 'n plaaslike boer en kaasmaker Sari van der Merwe aan die beurt gestel het.
Van der Merwe vertel dat die kaasmakery begin het by haar strewe om selfonderhoudend op die plaas te wees.
Vandag word haar kase ook in winkels bemark. Sy verduidelik die proses van kaasmaak vanaf die sterilisasie van die bok se spene voordat dit gemelk kan word tot by die voltooide kaas wat verpak word.
Daar is vier hoofprodukte wat Van der Merwe maak, naamlik jogurt (gegeur en ongegeur), sagte kase (verskillende geure), fetakaas en harde kaas (gouda) - die produkte word bemark onder die handelsmerk Sari's. Deesdae brei Van der Merwe ook serpe, mussies en handskoene met bokhaarwol en bemark sy dit by plaaslike stalletjies in die omgewing.
Die praatjie is afgesluit met 'n heerlike kaasproe en uitstalling waar al Sari's se produkte ook te koop was.
Esterhuizen gee toe vir elke lid 'n handgeskrewe resep, 'n bottel van haar eie ingelegde olywe en 'n tuisgemaakte skottelgoedwasser-wasmiddel wat ook as lugverfrisser gebruik kan word.
Die vergadering bespreek toe ook die beplande Winter Vrouedag wat op 1 Augustus in Aberdeen aangebied sal word. Kaartjies sal by lede te koop wees teen R100 en die sprekers is Wilma le Roux van Let Love Clothing met 'n motiveringspraatjie en modeparade, asook 'n tuinboupraatjie deur Starke Ayres.
Die vergadering is afgesluit met 'n groot bederf deur Adelle de Jager en Karen van Rensburg - 'n drie-gang ete bestaande uit botterskorsiesop, hoenderkerrie en kaaskoek.
Die gelukkige trekking van die dag is gewen deur Lize de Jager. Karen van Rensburg word gelukgewens met haar verjaarsdag en Judith Dardis word as nuwe lid verwelkom. Daar was ook 'n insameling van kosprodukte vir die plaaslike Bambino Sopkombuis.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'