ABERDEEN NUUS - Doneve Noni (24), 'n boorling van Aberdeen het onlangs 'n departementele aanstelling by Vollediens Primêr as gr.4-onderwyseres ontvang.
Sy het in April 2022 as onderwyseres gegradueer en sedert Oktober 2022 onbetaald en as vrywilliger in haar roeping as onderwyseres by Vollediens vasgebyt.
Noni het haar laerskoolloopbaan by dieselfde skool begin en voltooi.
Ná voltooiing van haar studies het sy teruggekeer na Aberdeen, vasbeslote om by een van die plaaslike primêre skole, haar onderwysloopbaan te begin.
Sy het poste buite Aberdeen afgewys en eerder as vrywilliger by een van die plaaslike skole aangesluit.
"Ek kon weggegaan het, maar my hart is hier waar ek grootgeword het. Mense wat van Aberdeen is, moet hier bly of terugkom en self ons plek bou en verbeter. As ons dit nie doen nie, wie sal?" Sy het soveel goeie herinneringe aan haar eie kinderjare in die dorp en skool, dat sy alles in haar vermoë wil doen om vir vandag se kinders dieselfde vreugde te gee as wat sy as kind geken het.
Jemile Green, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê dat dit 'n riem onder sy hart is as kinders van die Aberdeen terugkeer en terugploeg, want hulle ken die plaaslike sosio-ekonomiese uitdagings. "Noni is 'n voorbeeld van aanhouer-wen."
Talana Verwey en Maggie Swartbooi is beide onderwysers by Vollediens en onthou Noni nog as leerling van die skool. Verwey is kennelik trots op haar oudleerling en bevestig dat almal verheug en dankbaar is dat sy nou amptelik deel van hulle is.
Noni het haar klaskamer die sonneblom-klas gedoop sodat haar leerlinge daagliks die helder kleure van die blom sal raaksien en onthou dat hulleself ook soos 'n sonneblom kan skyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’