GRAAFF-REINET NUUS - 'n Algehele verslaentheid en geskokte stilte het Woensdagoggend in die skoolgange by Hoër Volkskool geheers ná die hartseernuus dat die alombeminde onderwyser Wikus Pretorius die vorige dag aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede is.
Hy was maar 39 jaar oud en is in Gqeberha (Port Elizabeth) vir die koronavirus behandel.
In huldeblyke van sy alma mater aan Wikus word hy nie net as 'n mense-mens en 'n vreugdevolle persoon met 'n omgeehart beskryf nie, maar as 'n waardevolle lid van die Volkskool-gemeenskap op wie se knoppie enigeen tydig en ontydig kon druk.
Hy sou altyd help, want niks was te veel gevra of was te veel moeite nie.
Theo Dorfling, skoolhoof, het namens die Hoër Volkskool-gemeenskap gesê dit is baie hartseer om afskeid te neem van 'n besondere mens.
"Wikus Pretorius het as leerder en onderwyser van Hoër Volkskool diep spore in ons harte getrap. Sy goeie menseverhoudinge en humorsin het van hom 'n baie geliefde persoon gemaak. Hy het goeie werk as onderwyser gedoen by die skool. Sy betrokkenheid by die leerlingraad het waarde tot ons leerderleierskap toegevoeg."
Op sportgebied het hy dit vir die deelnemers 'n aangename ervaring gemaak en sy kennis gemaklik gedeel. Sy bydrae tot die goeie gees onder die personeel was kosbaar."
Estene Coetzee, een van die onderwysers het Wikus só opgesom: "Wikus ons gaan jou so baie mis. Jy was die ligpunt in die skool. Jou grappies en lekker lag is hoe ek jou altyd sal onthou. Mnr. Algemene Kennis, met RSG oral aan jou sy (selfs in die klas). Jy los 'n groot leemte. Rus sag ou vriend."
Wikus het op 1 Augustus 2015 by Hoër Volkskool, waar hy ook in 2000 gematrikuleer het, as onderwyser ingeval. Hy het toerisme vir gr. 10 - 12 aangebied en sosiale wetenskappe vir gr. 8 en 9.
Wikus Pretorius en sy vrou, Elmarie.
Hy was ook een van die skakelonderwysers by die skool se leerlingraad. Die hoofseun, Jean Louis du Plessis, sê: "Mnr. Pretorius het my al by pienkvoetrugby afgerig en vandaar het hy 'n groot impak op my lewe gehad. Ek het die voorreg gehad om saam met hom op die leerlingraad te werk en het in sy o. 15-rugby- en -krieketspanne gespeel. Hy het altyd 'n goeie gesindheid gehad en daar was altyd tyd vir 'n grappie. Ek sal altyd na hom opkyk vir wie en wat hy vir ons Volksies was.
"Mia du Plessis, hoofdogter, het om beskryf as iemand wat altyd daar vir ons almal was. "As daar iets fout was, kon ons altyd met hom gaan praat het. Hy was 'n vreugdevolle mens met 'n groot omgeehart. Ons het baie by hom geleer en ons gaan hom baie mis. Hy sal altyd in ons harte onthou word."
Wikus was baie betrokke by sport en het die laaste paar jaar die o. 15-rugbyspan en vanjaar die o. 14-rugbyspan, afgerig. Die o. 15-krieketspan is ook deur hom gebrei en by atletiek het hy die diskusgooiers touwys gemaak.
Een van die leerders het die volgende oor hom te sê gehad: "Ek dink enigeen wat die voorreg gehad het om meneer Wikus te ken, sal weet watter groot verlies ons nou beleef. Meneer het die beste raad, leiding, opvoeding en ondersteuning aan ons as leerders gebied. Ek sal nou wat wou gee om net nog een keer uit sy klas gejaag te word."
Wikus se bynaam wat hy by die skool gekry het, was Jorik, en hy het dié naam gedra tot sy dood. Sy liefde en trots vir sy skool was onmiskenbaar. Hy was 'n mense-mens: streng as dit nodig was, maar hy kon altyd tyd maak vir lag.
Hy kon ook 'n storie vertel soos min mense kon hoewel die leerders sê hulle het eintlik meer gelag vir hom as vir die grappie self.
Wikus Pretorius, 'n geliefde onderwyser van Hoër Volkskool, het Dinsdag 27 Julie sy stryd teen Covid-19 verloor. By hom sit sy vrou, Elmarie, en kinders Elri, Jorik en Jani.
Wikus was ook vol wyshede en raad en hy kon maklik 'n mening vorm. Hy het ook gestaan by dit wat hy geglo het.
Nou is die stem van 'n geliefde onderwyser vir altyd stil en sy plek in die skool leeg. Dié sal moeilik gevul kan word.
Die skool bid sy familie vertroosting toe in hulle groot hartseer. Sy besondere menswees het ons almal se lewe verryk. Ons is dankbaar dat ons hom kon ken.
Graaff-Reinet Advertiser het met groot hartseer verneem van die heengaan van Wikus Pretorius en betuig hiermee innige meegevoel aan sy vrou, Elmarie, en kinders Elri (8), Jani (6), Jorik (1) en familie. Mag die Here julle onderskraag en vertroos in hierdie hartseer tyd.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'