MIDDELBURG NUUS - Die Middelburg Development and Advice Office (MIDAO), in samewerking met die Support Centre for Land Change (SCLC) en die MOTT Foundation, het Jeugdag op 16 Junie saam met jeugdiges in Rosmead herdenk.
Rosmead is 'n klein Transnet-nedersetting aan die buitewyke van Middelburg in die Oos-Kaap.
Die tema van die Jeugdag was "geleenthede."
Apostel Jerry Louw van die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) in Middelburg het die jeug verseker dat die Here vir hulle ook geleenthede beskikbaar gemaak het, ongeag die feit dat hulle hulself in die een van die kleinste nedersettings in the Inxuba Yethemba-munisipale area, binne die armste provinsie in Suid Afrika, bevind.
"Die Here skep die geleenthede, maar jy moet seker maak dat jy nie die geleenthede mis nie. Moenie agteroor sit en kyk hoe die seisoen van geleenthede by jou verbygaan nie."
Die VGK het 'n beradingskantoor en apostel Louw het jeugdiges uitgenooi om met die beraders te gaan praat indien hulle leiding nodig het om hul gawes te ontwikkel sodat hulle geleenthede kan identifiseer en aangryp.
Brian Brien van die SAPD in Middelburg het sy inset op Prediker 12:1 gebaseer en gesê dat hy al geleer het dat 'n mens in hierdie lewe niks sonder God se hulp kan doen nie.
Hy het beklemtoon dat elke persoon met 'n doel geskep is, en dat jongmense beswaarlik hierdie doel sal bereik indien hulle betrokke sou raak by verkeerde dinge soos dwelmmisbruik.
"Die lewe is moeilik genoeg en dwelms maak dit net nog moeiliker. Wanneer jy nie meer beheer oor jou verslawing het nie skep dit soveel probleme in jou lewe dat jy later nie meer weet hoe om dit te hanteer nie."
Indien daar jongmense is wat met dwelmverslawing sukkel kan hulle die Oos-Kaapse tak van die South African National Council on Alcoholism and Drug Dependence (Sanca) kontak by 043 722 1210.
'n Ander belangrike kontaknommer is ACT (Against Crime Together) - Report drug dealers to SAPS Crime Stop 0860 010 111.
EJ Louw, 'n jong entrepreneur van Middelburg met sy eie rekenaarskool, se hoofboodskap was dat die jeug nooit moet toelaat dat tydelike situasies die permanente toekoms moet bepaal nie. Die jeug moet bereid wees om dadelik werk te maak van tydelike probleme omdat tydelike probleme baie maklik permanent kan word indien dit te lank ignoreer word.
Hy het ook benadruk dat die jeug ontvanklik moet wees vir veranderinge en, as een ding nie uitwerk nie, hulle altyd bereid moet wees om die volgende ding aan te pak. Hy het bygevoeg dat die jeug nie net daarop toegespits moet wees om hul eie lewens positief te ontwikkel nie, maar ook om positief by te dra tot die ontwikkeling van die gemeenskap.
Die dag is afgesluit met die boodskap dat daar altyd 'n uitweg is om iets van jou lewe te maak.
Die daaglikse gebed van alle jongmense moet wees dat die klei nie hard moet word nie, maar sag sal bly sodat dit gevorm kan word. Geen plek is te klein om as platform te dien om groot dinge in die lewe te bereik nie.
Rosmead-jeuglede en gasssprekers tydens Jeugdagvieringe in Rosmead.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'