HOFMEYR NUUS - Die gemeenskap van Hofmeyr is dit eens dat die negatiewe nadraai van die Covid-19 pandemie nou tot wasdom kom.
"Ons dorpie loop deur onder die bravade van drie jeugbendes, wat steel en inbreek en dit wat nog in stand is, tot niet maak," sê 'n inwoner wat anoniem wil bly.
Veiligheidsligte is die eerste wat gesteel word, dan elektriese bedrading en pompstelsels.
By die plaaslike sportklub is groot skade aangerig, vermoedelik ook deur jeugdiges.
"Die kragkabel is eenvoudig uit die grond geruk en op twee plekke afgesny. Hierdie tipe kabel kan nie gelas word nie, en die elektriese waterpomp is ook in die proses beskadig," sê Willem Herselman, voorsitter van Hofmeyr Rolbalklub, wat op die skade afgekom het nadat waterprobleme by die rolbalbane ontstaan het.
Vrugte word groen-groen van bome afgesteel, en groentetuine word gestroop van alles wat moontlik eetbaar is, en dit wat nie eetbaar is nie, word vertrap.
Inwoners met sekuriteitskameras kan duidelik sien wie die wandade pleeg, maar omdat dit minderjariges is, is dit klaarblyklik buite die polisie se jurisdiksie om die sake aan te spreek. Van die inwoners dreig al om die kinders te vang en 'n hewige drag slae te gee.
Die kinders gaan glo nie skool nie, maar ontvang tog 'n mate van sorg van hul oumas en oupas, maar, nou tydens die pandemie, kry talle grootouers swaar, want deeltydse werk is nie meer beskikbaar nie. Die kinders se kindertoelaag word aan die persoon met die geboortesertifikaat oorbetaal, gewoonlik die ma, maar sy is dikwels afwesig en werk elders.
Dit het 'n kettingreaksie tot gevolg, want nie alleen kry hierdie kinders nie dissipline en opvoeding nie, hulle ly ook honger. In talle gevalle het die grootouers gesterf tydens die pandemie, en is die kinders nou sonder enige sorg - 'n maklike prooi vir bendeleiers.
'n Bekende inwoner van Hofmeyr, Joey Snyman-Els, het haar honde losgelaat toe sy sien hoe jeugdiges by haar motorhuis probeer inbreek. Hulle is egter blitsvinnig oor die heining. Snyman-Els kon die kinders identifiseer en weet presies wie op haar werf was, maar wetstoepassing se hande is glo afgekap.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'