HOFMEYR NUUS - 'n Bekende inwoner, Janica Louw (23), is onlangs aangewys as finalis in die Mej. Dowe SA-kompetisie 2022.
Die kroning van Mej. Dowe Suid-Afrika vind op 3 September plaas.
Louw is die kleindogter van wyle Flip en Mansie du Plessis, 'n gehoorgestremde egpaar, wat diep spore in Hofmeyr getrap het. Haar pa, Albie Louw, is ook gehoorgestremd.
Lana Louw, Janica se ma, het toe Janica vyf jaar oud was agtergekom dat haar spraak ingeperk is, maar omdat sy so 'n besige bytjie was, het die gehoortoetse haar ook vinnig verveel.
Nadat sy met gehoorapparate toegerus is, het spraakterapie en stimulasie haar laat blom.
Sy het by Laerskool De Tyger en by Hoërskool Tygerberg skoolgegaan en dié twee skole het hul uiterste bes gedoen om haar tot in matriek te akkommodeer. Sy het haar matriek met twee onderskeidings geslaag.
Janica sê sy is baie opgewonde oor die kompetisie en dat dit 'n jare lange droom van haar was om daarvoor in te skryf.
"Ek het in gr. 7 bewus geraak van die kompetisie en ek het met groot opgewondenheid gewag vir die regte tyd om in te skryf en aan Mej. Dowe Suid-Afrika deel te neem. Ek wil ander dowes inspireer en selfvertroue gee en ek wil aan hulle bewys dat elkeen van ons, ons drome kan bereik."
Sy sê om deel van twee wêrelde te wees is haar grootste uitdaging.
"My pa is doof en my ma is horend. Vandat ek Pretoria toe gevlieg het om die werksessie vir finaliste by te woon, het die dowe wêreld rondom my vergroot en ek is so opgewonde oor al die nuwe mense wat ek ontmoet. Ek het meer selfvertroue ontwikkel en dit is vir my 'n groot eer om tot hier te kon vorder. Indien ek hierdie kompetisie sou wen, sal ek, soos nou, 'n wêreldklas-ambassadeur vir die dowe gemeenskap wees."
Janica sê as dowe persoon in Suid-Afrika beskou sy kommunikasie as die grootste uitdaging.
"Horende mense weet nie hoe om te kommunikeer met 'n gehoorgestremde persoon nie. Gehoorgestremdes word nie geleer om met horendes te kommunikeer, soos vantevore nie.
"Daarom is ek my ouers innig dankbaar dat hulle my ook bemagtig het met gewone spraak en 'n goeie woordeskat. Ek vind dat, sodra ek iemand vertel dat ek doof is, en hul vra om stadiger en duideliker te praat, en na my te kyk terwyl hulle praat, raak kommunikasie baie makliker.
"Dit is egter vir my totaal onmoontlik om te reageer as iemand agter my sou praat en dan gebeur dit dat mense dink ek is onbeskof omdat ek nie reageer nie."
Janica het pas haar studies by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT), in modeontwerp voltooi en het reeds haar eie klerereeks begin.
"Ek vind groot vreugde daarin om spesiale uitrustings vir my kliënte te maak. Ek wil graag in die toekoms my handelsnaam, JL Designs, uitbrei en voortdurend vroue spesiaal laat voel deur vir hul spesiale uitrustings te ontwerp en te maak."
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'