ABERDEEN NUUS - Die Nasionale Goue Spele is vanjaar, ná 'n onderbreking van twee jaar as gevolg van Covid-19, in Ekurhuleni, Gauteng, van 6 tot 8 Desember aangebied.
Jane Saayman (71) het gekwalifiseer om in die 200 m-naelloop deel te neem, maar by aankoms by die Spele moes sy tot haar teleurstelling uitvind dat sy nie kon deelneem nie.
"Daar het maar iets fout gegaan met die reëlings. Dit was jammer, maar wat, iets om na uit te sien vir volgende jaar," sê sy.
Die Oos-Kaap kon wel deelneem aan die 400 m 4-stok-aflos en het die tweede plek behaal. Elkeen in die span het 100 m gehardloop en Saayman het bygedra dat haar span die silwertrofee na die Oos-Kaap kon bring. KwaZulu-Natal het die eerste plek behaal.
Saayman is tevrede met haar vertoning en prestasie en beklemtoon weereens: "Ek hardloop mos omdat ek kan; nie omdat ek tyd dophou nie."
Sy erken egter dit bly maar 'n aangename bonus om met 'n medalje huis toe te kom. Elke deelnemer het 'n goue medalje ontvang.
"Maar ek is net bly om terug te wees in my dorp by my mense en veral om in my eie bed alleen te kan slaap!" sê Saayman.
Sy is egter alreeds terug in haar daaglikse roetine van oefen en sien uit na volgende jaar se spele. Saayman het bekend geraak en harte verower, nie net oor haar liefde vir hardloop nie, maar ook haar lewenswysheid.
Op versoek deel sy haar Kerswense met lesers: "Onthou waaroor dit gaan. Dit is die herdenking van Jesus Christus se geboorte."
"Begin die dag by die Here en eindig die dag ook daar. Was dit nie vir God se genade nie, wát sou van ons word, hmm? Minder Kersjolyt en meer gewydheid; minder oor ons en geskenke en meer oor Jesus, ons Verlosser."
Saayman talm 'n oomblik en voeg dan by: "Veral hierdie jaar moet ons dankbaar wees. Onthou, vir haas drie jaar kon families nie geredelik bymekaar uitkom vir Kersfees nie. Daar was 'n tyd wat ons nie eers naby mekaar kon wees nie. En vanjaar kan alles weer wees soos ons gewoond is. Laat ons in dankbaarheid onse Verlosser prys."
Jane Saayman en haar spanmaats met die silwertrofee. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'