KAROO NUUS - 'n Man wat daarop uit was om laataand ystervarke te jag, het homself, sy vriend en sy honde teen die horings van 'n eland vasgeloop.
Die man vertel dat hy en sy vriend Vrydagaand, 1 September, op munisipale grond in Spandauville-kamp na ystervarke gaan soek het om te jag, toe die eland uit die bloute voor hulle verskyn het.
Sy honde het probeer om die dier terug te druk, maar die eland het deurgebreek, hom in sy sitvlak gegaffel en op die grond neergegooi.
"Ons het nie verwag dat daar wilde diere in die omgewing sou wees nie," sê hy. "Na die voorval was die eland skoonveld."
Die twee het toe 'n vuur gemaak en gewag tot sonsopkoms - in vrees dat die eland hulle weer kon aanval.
Die vriend het vroeg die volgende oggend gaan hulp soek omdat die man steeds nie kon opstaan nie en in geweldige pyn was.
Hy het die Camdeboo Nasionale Park se personeel rondom 09:00 van die situasie verwittig en hulle het 'n ambulans ontbied om die man na die Midland-hospitaal te neem.
Volgens die personeel het die twee mans aan hulle gesê dat hulle gaan draf het.
Brent Whittington, parkbestuurder van Camdeboo Nasionale Park, sê hy vermoed die eland het vasgekeer en bedreig gevoel en homself probeer beskerm.
Whittington het bevestig dat die voorval nié op die park se grond was nie, maar op munisipale grond.
Hy sê dat daar nie grootwild in die omliggende munisipale grond voorkom nie, behalwe vir nomadiese kudus en kleiner wild soos steenbokke en duikers wat vrylik rondloop en natuurlik in die streek voorkom.
Hy sê dat hierdie insident 'n tipiese voorbeeld is van onwettige jag met honde, soos wat die Advertiser berig het in die artikel, 'Snares a menace in Camdeboo', op 24 Augustus.
Whittington, wat jare se ondervinding in die veld het, sê dat hy in sy hele bewaringsloopbaan nog nooit deur 'n dier aangeval is terwyl hy een van sy talle voetslaanpatrollies uitgevoer het nie.
"Die vriend van die man het op die oggend vir Camdeboo-personeel gesê dat hy 'n hond deur die lug sien trek het, wat slegs kan beteken dat die eland teen 'n grensdraad vasgedruk was en homself verdedig het."
Die beseerde man het aan die Advertiser gesê dat hy vreeslik jammer is en dat hy mense wat in die nag met hulle honde wil gaan jag waarsku om dit nie te doen nie. "Ek sal dit nooit weer doen nie, ek het my les geleer en is bly dat ek nog lewe." Hy het ook aan die Advertiser vertel dat hy al sy honde gaan verkoop op een na.
Frikkie Rossouw van die Deptement van Natuurbewaring het bevestig dat die jag van diere met honde ten alle tye onwettig is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’