GRAAFF-REINET NEWS - "Ons vreugde ken geen perke," sê Mariaan Schoeman terwyl trane van blydskap en vreugde haar oë vul.
André en Mariaan Schoeman, van Hofmeyr, het by hul familie en kinders in Pretoria en omgewing vir die Kersvakansie gaan kuier.
Hul klein skoothondjie, Jackie, het saamgery. Hy bly immers nooit alleen tuis nie.
Terwyl hulle tussen hul familie gekuier het, moes hulle vir Jackie vir 'n paar dae by 'n hondehotel laat kuier, omdat daar by die meenthuiskompleks, waar hul sou kuier, geen hondjies toegelaat word nie.
Op Kersdag het die hondehotel hul egter laat weet dat Jackie uit haar hokkie gekom het, en weggehardloop het.
"Ons het dadelik op sosiale media adverteer, oral by die DBV en diere-skuilings navraag gedoen, maar in ons harte het ons geweet die kanse om ons bejaarde Jackie terug te kry is baie skraal."
Die hondehotel is in die omgewing van die Hartbeespoortdam, en daar is ook wilde diere in die omgewing.
Op 18 Januarie het trane van vreugde en blydskap egter gevloei nadat die Van Heerden-egpaar van Modimolle hul gekontak het om te sê dat hulle Jackie in hul sorg het. Die egpaar het vir Jackie in die omgewing opgemerk en die verskrikte hondjie met kos probeer teruglok.
"Vir nagte het hulle elke aand kos uitgesit. Jackie was só verskrik, hulle kon nie naby haar kom nie. Maar, hulle het 'n vanghokkie gekry en die nag van die 17de het Jackie in die vanghokkie beland!
"Ons het bykans onmiddellik na Modimolle vertrek om ons troetelhondjie te gaan haal. En sy is so opgewonde om weer tuis te wees."
(Lees ook die brief van die Van Heerden-gesin aan Jackie op bl.7).
'n Baie moeë Jackie slaap rustig terwyl sy huis toe ry.
'We bring you the latest Graaff-Reinet, Karoo news'