RUBRIEK - Oom Klaas wys my 'n kiekie van 'n stokou geel bus wat hy opgespoor het en sê: "Groot wysheid in DIE bus!" My oë vra hom om te vertel...
"Verskil tussen busryer en busdrywer is wie besluit wie bly en wie ry."
Ek wonder wáár val die Oubaas nou uit met hierdie een!
"Toe ek kind was, was daar waar ek skoolgegaan het, sulke stokou diep geel skoolbusse wat ons daagliks skool toe en terug gevat het. Verstaan mooi, dit was nie oral deur die land die gebruik nie – daar waar ek skoolgegaan het, het die ouers van skoolkinders die ding begin en bedryf. So ja, die ouers het betaal vir die diens. Een man het die busse aangekoop en onderhou; en die busdrywers was almal vrywilligers. Nou, elke bus het 'n vasgestelde roete gehad. En op elke roete was sentrale, informele busstoppe. Ouers en kinders het almal geweet: kom sonskyn, wind, reën, kapok of hael – as jy nie by daai busstop is wanneer die bus stop nie, dan mis jy die bus. Ons busdrywer, oom Frikkie, sal mos vir jou toe onder die stof gery het met daai bus, reg by jou verby, as jy nou net laat was... al het jy gehardloop dat jy klein raak om dit te haal voordat hy weer wegtrek. Daar was nie 'n ding van wag vir 'n kind wat laat is, nie daar is nie, of aangehardloop kom nie. En so het ons geleer om die bus se roete en TYD te respekteer.
"In die bus, soos dit maar oral gaan waar 'n klomp siele bymekaar is, het daar al gou 'n hiërargie ontstaan. Kinders het ook onder mekaar reëls gemaak van wie sit waar en so aan. Party busdrywers het redelik vrede gehad met wat die busryertjies ook al mog aanvang, solank hulle nou net nie iemand beseer of in gevaar gestel het nie. Oom Frikkie, soos van die ander busdrywers, was egter 'n ander kalant. Hy het gehou van orde en dissipline, maar meeste van alles: respek. In sy bus het tasse en sakke nie rondgestaan in die gangetjie tussen die rye sitplekke nie; dit het ook nie op 'n sitplek geland nie. Alle skoolbagasie moes onder die sitplekke ingepas word. Niemand mag in sy bus gestaan het nie, want onthou, dit was rowwe grondpaaie. Matige, beskaafde geselskap is toegelaat, maar jy moes oplet wanneer jou stop naderkom. As jy nie gewikkel het om jou bagasie onder jou sitplek uit te stoei en reg te kom vir afklim sonder om te lank in die gang te staan nie; en dan blitsig af te klim sodra die bus stilhou, dan het oom Frikkie mos daai busdeur toegeklap - met jou binne-in die bus en verby jou busstop of huis gery. En ás hy in 'n goeie bui was, het hy jou dalk by die volgende busstop afgelaai, as jy dan betyds by die bus se deur was. Anders het hy aangehou ry met jou binne-in die bus.
"Maar niks daarvan was so erg soos as daar te veel geraas was of enige ander busreël oortree is nie. Dan het oom Frikkie stomp-op, net daar, waar dit ook al mog wees, stilgehou en die sondebok beveel om van die bus af te klim. Meer as een kind is meer as eenkeer so langs die pad gelos.
En onthou daar was nie selfone nie – daar was skaars telefone!
"Toe kom daar die dag wat 'n nuwe kind begin bus ry. Rammetjie-uit-nek en nie lank nie, toe proe die klong oom Frikkie se toorn. Hy weier om uit te klim toe oom Frikkie terstond stilhou en hom uit die bus beveel. Reken toe sy pa BETAAL mos en oom Frikkie is net die busdrywer – hy moet doen wat hy veronderstel is om te doen.
"Ek hoef nou nie vandag te vertel oor my kleintyd en teëpraat nie; almal weet dit was nie geduld nie. Maar ek kan vir jou sê oom Frikkie het daai jongetjie aan sy hemp se kraag en sy broek se band gevat en hom fisies by die bus uitgegooi in die stofpad in en toe sy tas en sportsak nog agterna; die deur toegemaak en verder gery... in doodse stilte.
"Sien jy Boeta, nou DIS die probleem vandag: deesdae word geglo die een wat BETAAL, is die een wat BEPAAL. Maar dis nie altyd so nie – jy moet weet wanneer is jy in 'n bus; en dan moet jy weet wanneer is jy die busdrywer en wanneer is jy die busryer. En as jy die busryer is, moet jy jou plek ken. Want ken jy hom nie, laai daai busdrywer jou strakkies af. Onthou altyd: jy neuk nie rond met die busdrywer nie!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’