Gallery
ABERDEEN NUUS - Nadat 'n sterk storm Aberdeen op 7 Februarie getref het en verskeie huise oorstroom is, het inwoners op 8 Februarie die plaaslike munisipale kantoor met dieselfde versoek besoek, "Maak ons leiwatervore skoon en reg".
Rabie Gericke, 'n inwoner van Kerkstraat, se huis het op 7 Februarie vir die derde keer vanjaar oorstroom as gevolg van die gebrekkige stormwaterinfrastruktuur.
FOTOGALERY: Rabie Gericke se huis oorstroom vir die derde keer
Die woongebied van Aberdeen is totaal aangewese op leiwatervore om stormwater weg te voer, en met verdere dreigende reën het Gericke, nadat hy die stand van die leiwatervoor gerapporteer het, dit self skoongemaak.
Hy het die sementblokke oor die voor op die hoek van Kerk- en Cathcartstraat opgelig, skoongemaak en daarna die straat toegemaak vir verkeer aangesien oop vore gevaarlik is.
'Ons sal self'
Op 16 Februarie het nog 'n inwoner van Kerkstraat genoeg gehad van 'n huis wat konstant oorstroom. Peter Clifton se huis is op die hoek van Kerk- en Darlingstraat en ook daar het die sementblokke gebreek en die voor verstop.
Clifton het die blokke gelig, die voor skoongemaak en die straat afgesper. In die proses het Clifton egter 'n hooftoevoerwaterpyp raakgesteek wat versteek was onder opgeboude gemors binne-in die voor.
"Ons het omstreeks 13:00 die pyp geslaan. André (Marais) was ook hier en het dadelik die munisipaliteit gaan roep. Maar hier is dit nou al ná 16:00 en die water hardloop nog steeds en niemand kom nie," het 'n moedelose Clifton verlede Donderdagmiddag aan die Advertiser gesê.
Clifton het probeer om die water van ander huise weg te lei en na Marais weer by die munisipale kantoor hulp ontbied het, het werkers opgedaag en die pyp blitsig herstel. Hulle was vroeër die dag in Graaff-Reinet vir werk en was pas terug in Aberdeen.
Grensmuur blok voor
Clifton het later gesien 'n grensmuur van die huis op 'n ander hoek is oor sy huis se leivoor gebou. So bou water op en oorstroom Clifton se huis as dit reën.
Clifton sou dié week die aangeleentheid met die waarnemende munisipale areabestuurder, Clive Kombani opneem.
Kombani het Maandag 20 Februarie bevestig dat die munisipale span gedurende die loop van die week aandag sou gee aan die afgesperde kruisings.
Die munisipaliteit het Woensdag, 22 Februarie aan die paaie en vore begin werk, en was teen saktyd nog besig.
Peter Clifton kniediep in die water aan die verduidelik oor die voor en versteekte waterpyp.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'