GRAAFF-REINET NUUS - Verteenwoordigers van Spandau Sekondêre Skool en Asherville Sekondêre Skool het vandag 6 Julie met die department van onderwys om ‘n tafel gesit, om te kyk of die interskole-byeenkoms wat van 24 Julie tot 29 Julie sou plaasvind, gered kan word.
Dit het dié week aan die lig gekom dat die beplande stryd tussen die twee skole glo as gevolg van geskille rakende die ouderdomme van spelers afgestel is.
Moos Mbodla, Asherville se voorsitter van sport, het vandag aan die Advertiser bevestig dat die ouers van Asherville namens dié skool aan Spandau se beheerliggaam verskoning gevra het omdat hulle nie by die rëels van BokSmart gehou het rakende die ouderdomme van hul spelers nie.
Asherville het ook die brief dat hulle van die interskole onttrek teruggetrek, en ook verskoning vir dié aksie gevra.
Volgens Mbodla sal die twee skoolhoofde Dinsdag vergader om die pad vorentoe te bespreek, sodat die interskole seepglad kan verloop.
Volgens Mbodla het Spandau die verskoning reeds mondelings aanvaar, maar versoek hulle dit ook op skrif. Dus lyk dit asof die interskole, soos beplan, op 24 Julie sal afskop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’