HOFMEYR NEWS - Tommie en Emma Roux van Hofmeyr het die afgelope naweek hul 60ste huweliksherdenking gevier.
Die egpaar, albei 82 jaar oud, is op 4 Februarie 1961 in die huwelik bevestig deur ds. Wilson in die NG kerk op Hofmeyr.
Na hul huweliksbevestiging het hulle op die plaas Diepfontein gaan woon, totdat hulle in 1975 na die familieplaas, Allemansvlei, verhuis het.
Die egpaar het diep spore in die Hofmeyr-gemeenskap getrap, en was betrokke by die VLV, die kerkraad, boerevereniging, koöperasie en ook die sportklub.
Tommie het tot op 34-jarige ouderdom vir die noord-oostelike distrik en Rovers rugby gespeel. Emma het bekendheid verwerf met haar puik blommerangskikkings, pragtige plaastuin, heerlike tuisgebakte beskuit, etes uit die boonste rakke en sy het op 'n stadium ook die tuisnywerheid op die dorp, Snuffel en Snuif, bedryf.
Hul was besonder bevoorreg om hul kinders almal by die viering van die diamantherdenking te hê - Thomas en Desiré van Jeffreysbaai, Piet en Erina vanaf Hofmeyr, en Ettienne en Susan, ook van Hofmeyr.
Daar was ook van hulle kleinkinders - Pieter Wynand en Sunel Roux van Cradock, asook Elmien Roux en Michael Marx van Cradock.
...en 60 jaar later.
Die egpaar se geheim vir 'n lang, gelukkige huwelik lê in hul onbaatsugtige liefde en sin vir humor. Al het hulle die afgelope 60 jaar ook swaargekry, het hulle bly vasklou aan geloof, hoop en liefde.
Hulle is nog sterk en gesond, en woon nou in die dorp, waar hulle hul dorpstuin self aan die gang hou. Tommie sorg gereeld dat sy eie vrugtebome, asook die vrugte- en roosbome van sy vriende, gesnoei word.
Emma bak steeds beskuit vir haar kinders en kleinkinders, en vir almal wat graag daar gaan tee drink.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'