GRAAFF-REINET NEWS - Dis met leedwyse dat die plaaslike gemeenskap die nuus ontvang het van oud-Middelburger, Brigadier-Generaal HB Smit (75), ook bekend as Fido, wat op Vrydag, 28 September, aan hartversaking in Pretoria oorlede is.
Hy was die seun van Marthinus en Baby (Johanna) Smit van die plaas Noodhulp in die Middelburg-distrik en is gebore op 22 November 1942.
Sy skoolloopbaan het hy aan die Hoërskool Middelburg voltooi en na sy militêre diensplig, het hy aan die Leergimnasium by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit.
Vroeg in sy loopbaan beklee hy die rang van Brigadier-Generaal en tree hy op die ouderdom van vyftig af. Daarna reis hy etlike jare in Europa, Oos-Europa, die Midde Ooste en Afrika as konsultant vir die Pantser Wapenindustrie.
Hy het verskeie ingenieurskwalifikasies gehad en onder sy leiding is die Rooikat Pantservoertuig ontwerp en ontwikkel. Sy opvolger het die projek voltooi.
Hy was met hart en siel deel van die Karoo. Hy was die oorhoofse bevelvoerder van Regiment Groot Karoo - 7 Devisie.
In sy hart het Hendrik altyd na die Karoo gehunker. Ook dikwels Karoo-familie besoek, waaronder sy broer Andries Smit en suster Elize Vögel in Graaff-Reinet.
Hy was intellektueel, musikaal, belese en baie talentvol. Sy uitstaande kenmerke was mensliewendheid, gasvryheid en nederigheid.
Ons uit die Karoo en sy Pretoria geliefdes groet hierdie merkwaardige seun van Middelburg Oos-Kaap.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo news'