JANSENVILLE NUUS - Huis Welverdiend op Jansenville het weereens 'n groot mylpaal bereik met die amptelike oorhandiging van 'n hernubare energieprojek verlede Vrydag.
Hierdie projek behels die oprigting en benutting van 'n 60kW fotovoltaïese sonkragstelsel waarmee sonenergie direk in elektrisiteit omgeskakel word.
Huis Welverdiend vir bejaardes word, soos baie ander elektrisiteitsverbruikers, gekonfronteer met beurtkrag en die komplikasies wat daarmee gepaard gaan.
Dr. Willie de Beer, 'n spreker tydens die geleentheid, is van mening dat die situasie nie in die voorsienbare toekoms gaan verbeter nie, veral gegewe die huidige uitdagings met energievoorsiening op nasionale vlak.
Tydens die oorhandigingsgeleentheid het Pauline van Zyl, voorsitter van die Huis Welverdiend-beheerraad, beklemtoon dat die deurlopende verskaffing van elektrisiteit van kardinale belang is in die versorging van die inwoners van Huis Welverdiend.
Volgens Hans Roux, een van die inwoners van Huis Welverdiend, is daar 'n merkbare verbetering in die gerief van die inwoners sedert die ingebruikneming van die sonkragstelsel.
Die lewering van noodsaaklike dienste aan die inwoners, veral gedurende elektrisiteitsonderbrekings, het ook aansienlik verbeter.
Van Zyl wys daarop dat die belegging in die hernubare energieprojek duidelik 'n uitstekende besluit was omdat elek-trisiteitstariewe gereeld verhoog word terwyl elektrisiteitsonderbrekings toeneem. Die projek het reeds 'n geweldige besparing op ons elektrisiteitsrekening meegebring," vertel Van Zyl.
"Ons gebruik lugversorgers, verwarmers, stowe, yskaste, wasmasjiene, ligte, ketels, televisies, rekenaars en dan beloop ons rekening so tussen R4 000 en R6 000 waar ons in verlede, selfs voor die prysverhoging, meer as R20 000 per maand aan elektrisiteit moes spandeer."
Van Zyl noem dat die projek deur die National Lotteries Commission gefinansier is en dat hulle uiters dankbaar daarvoor is.
Tydens die oorhandiging van die blyk van waardering aan die National Lotteries Commission se Oos-Kaapse verteenwoordiger, Henry Petrus, verwys hy na hul trotse verhouding met die tehuis vir bejaardes en wens hulle geluk met die uitstaande prestasie in die voltooiing van die hernubare energieprojek.
Die projek is voltooi binne die voorgeskrewe raamwerk en voldoen aan die neergelegde vereistes van die National Lotteries Commission.
Leoné Muller, bestuurder van Huis Welverdiend, het 'n blyk van waardering oorhandig aan die kontrakteur, Marius Basson van SAPV. Basson het die effektiewe werking van die hernubare energiestelsel demonstreer en bo enige twyfel bewys dat die stelsel puik presteer en aan al die nodige tegniese vereistes voldoen.
Van Zyl het daarna 'n blyk van waardering oorhandig aan die projekkonsultant, Willie de Beer, wat verantwoordelik was vir die professionele ingenieursinsette en hom bedank vir sy uitstaande diens.
Sy is veral dankbaar dat hulle nou gemoedsrus het in die wete dat daar omgesien is na die beste belange van Huis Welverdiend en ook dat hulle nou spog met 'n trotse belegging.
"Die dorp sit baie aande in die donker, maar danksy die National Lotteries Commission sal daar nou altyd lig by Huis Welverdiend wees."
Volgens De Beer is die sukses van die projek te danke aan goeie spanwerk, die gebruik van toerusting van uitstaande gehalte en 'n gesonde verhouding met Dr Beyers Naudé Plaaslike Munisipaliteit.
Die projek se voordele moet gesien word binne die raamwerk van die nasionale verantwoordelikheid om die koolstofvoetspoor te beperk, die nasionale energiekrisis te verlig en n wen-wen-situasie vir die plaaslike munisipaliteit asook Huis Welverdiend te bewerkstellig.
Hy verduidelik dat energie wat deur die stelsel opgewek word eerstens gebruik gaan word om aan die huis vir bejaardes se behoeftes te voorsien. Enige addisionele energie sal dan teruggeplaas word in die munisipale elektrisiteitsnetwerk, maar dit is egter steeds 'n toetsprojek.
De Beer noem ook dat die projek aan al die verwagte ontwerp-, installasie-, veiligheid- en prestasievereistes voldoen.
Die personeel van Huis Welverdiend het as deel van hul dankbetoning 'n uitstaande verwerking van Amazing Grace gelewer. Ten slotte het Van Zyl genoem dat hulle die afgelope 20 jaar ongelooflik baie van die Lotto ontvang het.
"Ons is al 'n hele paar keer bekroon met toekennings soos die beste ouetehuis in die land, maar as dit nie vir al die ondersteuning van die Lotto en ander weldoeners was nie sou ons dit nooit kon bereik nie."
Huis Welverdiend is in 1979 gebou en het aanvanklik huisvesting aan 30 inwoners gebied. Dit het intussen gegroei tot 52 inwoners terwyl daar tans 25 personeellede is.
Van links is Hans Roux (inwoner van Huis Welverdiend), Marius Basson (kontrakteur), dr. Willem de Beer (projekbestuurder/konsultant,) Henry Petrus (bestuurder van Nasionale Lottery se Oos-Kaap-tak), Pauline van Zyl (voorsitter van die beheerraad, Huis Welverdiend), Leone Mulder (bestuurder, Huis Welverdiend) en ds. Willie Smith (beheerraadslid en seremoniemeester).
Foto's: Chriszanne Janse van Vuuren
Die voorsitter van die Huis Welverdiend se beheerraad, Pauline van Zyl, oorhandig 'n sertifikaat van waardering aan die konstultant projekbestuurder, dr. Willie de Beer.
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'