GRAAFF-REINET NUUS - Huis van de Graaff is 'n gemeenskapsgerigte dienssentrum wat versorging bied aan bejaardes en mense wat nie meer op hul eie kan woon nie.
Die dienssentrum maak uiteraard baie staat op weldoeners en inwoners van Graaff-Reinet se ondersteuning, maar die Covid-19-pandemie het hulle ook erg getref en groot finansiële druk op die sentrum geplaas.
Tydens die grendeltydperk kon die sentrum geen fondsinsamelings hou nie en dit het hul geldsake lelik deurmekaargekrap.
Huis van de Graaff het nou die ondersteuning en hulp van Graaff-Reinet meer as ooit nodig en hulle doen 'n beroep op inwoners om die sentrum uit die krisis te help. Enige skenking is welkom, maar finansiële bydraes, hoe gering ook al, sal baie help om die nood te verlig.
Benewens finansiële ondersteuning benodig die sentrum ook die volgende in sy mediese afdeling: 'n HB-meter (bloeddruk), 'n suurstofsilinder, 'n instrumentsteriliseerder; in die kombuis - 'n elektriese urn vir warm water en 1.5 liter Hart-ketels vir die gasstoof.
En algemene soos: lakens (pas- en bolakens), weggooidoeke en 'n tweedehandse kragopwekker.
Daar is ook 'n groot tekort aan kussingslope en enkelbedlakens.
Diegene wat wel 'n finansiële bydra kan maak kan vir Rita Theron bel by 049 892 3229 vir die bankbesonderhede. Enige ander bydraes of skenkings kan by Huis van de Graaff afgelaai word. Huis van de Graaff het nog kamers beskikbaar vir hulpbehoewende mense.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'