GRAAFF-REINET NUUS - Die personeel en bestuur van die ACVV Huis van de Graaff het tydens 'n spesiale funksie op 7 November die tehuis se donateurs bedank vir hul getroue ondersteuning op verskeie gebiede.
Die lojale ondersteuners is bederf met heerlike eetgoed, en is ook ingelig oor opknappingswerk wat onlangs by die tehuis aangebring is. Steve Steynberg is uitgesonder vir sy toewyding tot die huis, en is aangewys as 'Man van die wedstryd' deur die voorsitter van die beheerraad, Antoinette Steenkamp.
Die funksie was veral besonders, aangesien die ACVV vanjaar hul 115de bestaansjaar vier. Om dié rede was daar 'n lekker verjaardagkoek om aan te smul. Die ACVV is in 1904 gestig met die doel om hulp te verleen aan gesinne in nood na die Anglo-Boereoorlog.
"[Dankie] aan elke vrywilliger wat ons hande sterk, elke donateur wie se bydrae van voedsel, klere, doeke of kontant van groot waarde is, en elke Graaff-Reinetter wat ons goedgesind is," het Steenkamp gesê. "U word vriendelik uitgenooi om Huis van de Graaff te besoek en terugvoering te gee oor u indrukke en om as lede of vrywilligers by die ACVV aan te sluit."
Die ACVV-tak is 'n nie-winsgewende organisasie wat na die belange van Huis van de Graaff en die Anna Lucia-woonstelle omsien.
'n Heerlike verjaarsdagkoek om die ACVV se 115de bestaanjaar te vier.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'