HOFMEYR NUUS - Hofmeyr Hugs of Hope het die afgelope week hul opleidingskoördineerder, Katrina Olifant, asook haar assistent, Ella Kleinveldt, na Somerset-Oos gestuur vir gevorderde opleiding.
"Dit was vir my 'n reusevoorreg om hierdie geleentheid mee te maak, en ek gaan poog om elke naaldwerkster by Hugs of Hope te help om net die beste diens te lewer om topgehalte kwilte te maak," het Olifant na die opleiding gesê.
Isabel Wilken het die vroue na haar groot kwilterswerkswinkel genooi, waar hulle geleer is om op die Grace-langarmkwiltmasjien hul voltooide kwilte te span en te kwilt. Verskeie steektipes en patrone is ook geleer.
"Ek is verstom deur hul masjienvaardigheid, entoesiasme en die netheid van hul artikels wat hul saamgebring het. Dit spreek van intensiewe opleiding en absolute toewyding. Hulle poog ook deurgaans om net die beste te lewer, en dink nie twee keer as daar losgetorring moet word nie," het Wilken gesê.
Hofmeyr Hugs of Hope het 'n afbetalingsooreenkoms aangegaan met 'n voormalige lid wat verhuis het en so haar langarmkwilter en masjien bekom. Die aankoop van die masjien gaan gepaard met reuse-insette deur die werkers by Hugs, want die afbetalings affekteer die kontantvloei.
"Maar, ons gaan topgehalte, professionele kwilte lewer, waarop elke kwilteienaar lewenslank trots sal kan wees," verseker Olifant."
Gelukkig is nie een van die vrywilligers of werkers by Hofmeyr Hugs of Hope bang vir harde werk nie, en ons sien uit na die nuwe produkte," sê Hettie Hänker, vrywilliger by Hofmeyr Hugs of Hope.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'