CRADOCK NUUS - Hugo Barendse (21) en sy gidshond, Astro, is reeds bekendes in die dorp. Barendse, wat sedert sy kinderdae siggestremd is, het verlede jaar vir Astro gekry om hom te help om sy alledaagse lewe te vergemaklik, maar volgens hom is dit ook nie al die pad so maklik nie.
"Vir my is die grootste probleem wat ek ervaar nie my swak sig nie, of die feit dat ek nie kan bestuur of mense dadelik kan herken nie, vir my is die grootste probleem die feit dat ek dikwels nie toegelaat word by winkels, met my gidshond Astro, aan my sy nie," vertel hy.
Leatitia Barendse, Hugo se ma, sê dat Hugo as baba gediagnoseer is met 'n ernstige siggestremdheid, nadat hy in Gqeberha gebore is en vir ses weke in 'n broeikas was.
"Hy kon in Cradock in die normale hoofstroomskool skoolgaan tot in gr. 9 met die hulp van 'n toegewyde onderwysspan, 'n broer wat gewillig was om te help en ons as ouers en sy grootouers het hom ook bygestaan.
"Tydens sy gr. 9-jaar is ons deur die skoolhoof ingeroep en ons is voor 'n keuse gestel. Ons het as gesin besluit om hom die geleentheid te gee om die Pionierskool vir Blindes in Worcester vanaf gr. 10 tot 12 by te woon."
Hugo sê dit was vir hom 'n opwindende ervaring om by die Pionierskool aan te pas, want skielik moes hy 'n hele nuwe omgewing leer ken.
"Maar die feit dat almal om my met my kon saampraat oor ons eenderse probleme het dit makliker gemaak. Dit was ook reeds hier waar ek in 2019 gehoor het dat ek moontlik in aanmerking kan kom vir 'n gidshond, en ek het ook in 2019 reeds die nodige vorms van die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging ingevul.
"Dit was ook belangrik dat ek myself kon orienteer en mobiliseer met behulp van die 'wit kiere' waarmee blindes en swaksiendes oor die weg kom. Die SA Gidshondvereniging het my in April/Mei 2021 in Cradock kom besoek en ek moes ook op daardie stadium aan dié vereniging bewys dat ek oor die weg kan kom met die wit kierie. Ek is vervolgens in Augustus 2021 vir twee weke na die Gidshondvereniging, waar ons teoreties voorberei is."
Hy sê verder dit is vir hom baie moeilik as diereliefhebbers wat hy raakloop vir Astro wil bederf met 'n lekkerny, want dit is teen die reëls van haar dieet.
"Dit is ook nie 'n goeie plan om 'n siggestremde se gidshond aan te spreek, of aan die hond te raak, terwyl hul werk nie. Dit trek die dier se aandag af en dit kan ook ernstige nagevolge inhou as my hond se aandag nie gevestig is op my opdragte nie. Vra dus asseblief eers toestemming voordat jy aan Astro vat."
Hugo het groot toekomsdrome en beplan om met sy onderwysstudies te begin. Hy werk tans by sy ouers se besigheid in Cradock en is heel vaardig tussen al die rakke om dadelik te weet waarna klante soek. Hy stap graag werk toe en volg verskeie roetes om daar te kom. Hy wil ook graag wêreldreise onderneem, met Astro aan sy sy.
Astro in sy "uniform".
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'