ABERDEEN NUUS - Gavin Brits van Brits Houtwerke is 'n 34-jarige Karooseun wie se naam onthou kan word. Nie net is hy so eie aan die Karoo soos die Karoobossie nie, maar sy talent met houtwerk maak hom in Aberdeen en omgewing 'n huishoudelike naam.
Brits ontwerp al sy houtwerkitems self en laat hom lei deur die wense van sy kliënte.
"Ek teken nie planne vir die goed wat ek maak nie. Die prentjie vorm in my kop en dan volg ek dit net met my hande."
Met geen formele opleiding in dié vak-gebied nie, volg Brits nie net standaard praktyk nie, maar gebruik hy ook sy eie oorspronklike metodes om items uit hout te skep.
Brits vertel dat hy half gedwing was om homself te leer houtwerk doen: "Ek het nooit eers gedink aan houtwerk nie, want ek het niks daarvan geweet nie. Waar ek grootgeword het, het niemand houtwerk gedoen nie; en dis mos nie iets wat ons op skool geleer word nie. Toe begin ek snags droom ek doen houtwerk. Die drome het bly terugkom en my behoorlik moeg gemaak, hoor. Ek het besef al hoe ek sal ophou droom, is as ek dit maar begin doen." Met net 'n saag, hamer en beitel het Brits sy eerste meubelstukke gemaak. "Ek kon nie glo toe my eerste meubelstuk klaar is, daar staan én 'n sukses is nie."
Brits sê alhoewel houtwerk nie iets was wat hy in sy lewe gesien materialiseer het nie, lê dit hom vandag na aan die hart en leef hy homself uit daarin. Dis vir hom veel meer as net 'n stokperdjie.
"Dit gaan my nog oorsee neem, maar intussen wil ek so graag Aberdeen se jongmense ook leer houtwerk doen." Hy sê weldoeners het hom al heelwat verras, veral met masjinerie wat aan hom geskenk is, en hy is steeds elke dag dankbaar daarvoor. Maar as hy nog durf wens, sal dit wees vir 'n veilige onderdakspasie waar hy jongmense van Aberdeen kan oplei.
"Sport is goed, maar om iets met jou eie kop en hande te skep, iets wat vir altyd kan hou, is blywend en verrykend."
Brits se 'opelug werkswinkel'.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'