KAROO NUUS - Die ACVV Huis van de Graaff se deure het in 1904, 'n hele 119 jaar gelede, in Graaff-Reinet oopgemaak en talle ondersteuners en vrywilligers het oor die jare hulle deel gedoen om die tehuis aan die gang te hou.
Tans woon daar 43 bejaardes van alle bevolkingsgroepe - meeste is boorlinge van Graaff-Reinet, maar daar is ook inwoners wat kom van Cradock, Humansdorp en Aberdeen.
Die tehuis betaal noodgedwonge self 70% van 16 inwoners se verblyf, aangesien dié inwoners slegs staatspensioene ontvang.
Derhalwe ondervind Huis van de Graaff groot finansiële druk wat hulle met verskeie fondsinsamelings probeer verlig. Die onlangse steakaand wat die Spandau-tak van die ATKV gereël het, is deur almal geniet.
'n Paar van die projekte, in samewerking met die ATKV, is:
- 'n trekking van lootjies vir 'n koedoe en springbokke;
- 'n potjiekoskompetisie;
- en 'n projek, "debietorder vir 'n bejaarde" (details op Facebook).
Huis van de Graaff se hoof, Antionette Oosthuizen, vra asseblief die gemeenskap se ondersteuning. "Ons het regtig goedgesinde harte broodnodig. Enige skenkings van kruideniersware, toiletware, skoonmaakmiddels of kontant is altyd baie welkom. Mense kan ook 'n bejaarde "aanneem" - veral dié sonder familie."
Huis van de Graaff verwelkom graag besoekers, en indien mense op bestuursvlak betrokke wil raak, kan hulle Oosthuizen by 076 901 1253 kontak.
Huis van de Graaff huisves 43 bejaardes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’