STEYNSBURG NUUS - "Ek is so onhandig, ek kry nie eers gare deur 'n naald nie," spot Kathy Bezuidenhout van Steynsburg. Maar hierdie vrou staan vir geen uitdaging terug nie. Sy staan bekend as die hondevrou van Steynsburg - sy het immers nege honde, maar sy tree ook op as pleegma vir ander honde.
Sy is boonop druk besig met opruimingsaksies in die dorp en het nou 'n projek om plastiese stene te giet van stapel gestuur.
"Ek pas inwoners wat met vakansie gaan se huise op, en dit is hoe ek met my talente begin woeker het."
Tydens grendeltyd het Kathy haar eie blyplek binne en buite opgeknap, en die bure en die res van die dorp het gou haar talente raakgesien. Kort voor lank het diegene na wie se wonings sy omsien, ook begin om haar in te span vir herstelwerk.
"Grendeltyd het my lewe verander en ek geniet elke uitdaging wat na my kant toe kom. Geen opdrag is te groot of te klein nie."
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'