HOFMEYR NUUS - "Hoewel dit algemeen bekend is dat die dorp, Hofmeyr, netjies en skoon daar uitsien, was dit vir ons 'n groot probleem om te sien hoeveel vullis buite die dorp langs paaie uitgegooi word," vertel ds. Marius Barnard.
Barnard is reeds vir drie jaar in beheer van opruimingsaksies in die dorp en ontvang minimale finansiering van Hofmeyr Hugs of Hope, 'n klein aantal inwoners en twee besighede op die dorp.
Die afgelope week het Barnard en Barend Opperman tot aksie oorgegaan met opruimingswerk in woonbuurte aangrensend aan Hofmeyr en om stortingsterreine langs paaie skoon te maak.
"Ons kon 'n trekker met laaigraaf van 'n plaaslike inwoner leen en gevolglik kon ons werk met rasse skrede vorder," sê Opperman waar hy druk besig was om stortingsterreine op te ruim. "Alle brandstof is egter vir ons eie rekening en dit vat aan ons sakke. Dit is nodig dat inwoners opgevoed sal word om herwinningsaksies te begin en dit moet ook op skoolvlak begin word."
'n Groepie van vier seuns is die afgelope twee weke opgemerk met sakke waarin plastiekkoeldrankbottels versamel word. Honderde bottels word weekliks deur hulle ingesamel. Dit is reeds 'n goeie begin.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'