HOFMEYR NUUS - Francois Coetzer (41), 'n eertydse plaasseun van Hofmeyr, het tydens sy hoërskoolloopbaan by Hoër Landbouskool Marlow reeds groot naam by die SA atletiekkampioenskappe gemaak waar hy sy Springbokkleure in paalspring verwerf het.
Hy matrikuleer in 1998 by Marlow en gaan voort om homself as ‘n stunt rigger te bekwaam.
Hy doen dus die raamwerkmontasies wat deur waaghalse gebruik word ,om verskeie aksies in 'n rolprent weer te gee.
Coetzer is tans die eienaar van Blackrats Action Design en woon in Hollywood. Hy het ook pas verneem dat Blackrats Action Design genomineer is vir die Screen Actors Guild Award for Outstanding Performance by a Stunt Ensemble in a Motion Picture. Hierdie toekenning word deur die Screen Actors Guild gegee ter erkenning van werk deur waagakteurs.
Dié benoeming vanjaar is vir sy firma se betrokkenheid by die waagwerk in die film Dune wat tydens September 2021 vrygestel is.
Dune is 'n epiese wetenskapsfiksiefilm onder direksie van Denis Villeneuve en dit is ook deur hom, in samewerking met Jon Spaihts en Eric Roth, geskryf.
Hierdie is die eerste van 'n tweeledige aanpassing van die 1965 novelle deur Frank Herbert. Die film speel af in die verre toekoms en beeld die lewe uit van 'n sekere Paul Atreides en sy familie, van die Koningshuis Atreides, wat in 'n oorlog betrokke raak.
Dune word deur die Warner Brothers-filmmaatskappy versprei.
Dune is ook voorheen as film aangepas, deur David Lynch in 1984, maar was 'n grootskaalse mislukking. Die verfilming van die nuwe weergawe het tydens Maart tot Julie 2019 in Boedapest, Jordanië, Noorweë en Aboe Dhabi plaasgevind.
Die bekendstelling van dié film was geskeduleer vir die einde van 2020, maar is in die wiele gery deur die Covid-19-pandamie.
Die film is dus eers tydens die 78ste Internasionale Filmfees in Venesië bekendgestel. Dit vaar steeds bo verwagting goed as lokettreffer. Minder as 'n week ná die bekendstelling van die film, het dit bekend geword dat daar 'n opvolg vervaardig sal word. Dit word in Oktober 2023 bekendgestel.
Francois is in 2021 met Polina Elencheva van Bulgarye getroud. Hul babaseun is op 5 Desember 2021 gebore en spog met die familienaam, Daniel Francois Coetzer. Die egpaar woon in Zürich Switserland, maar Francois werk op die oomblik in Londen.
Die grondslag wat Marlow in die tegniese klasse gelê het, het hierdie jong man tot groot hoogtes aangevuur.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'