GRAAFF-REINET NUUS - Een van die groot hoogtepunte op Hoër Volkskool se kalender is die aanwysing van sy Mnr. en Mej. Volkskool, wat elke tweede jaar aangebied word.
Weens die Covid-19-pandemie was die skool genoodsaak om dit in die opelug aan te bied. Die tema vir 2021 was country en western en die binnehof by Hoër Volkskool is vir dié uithanggeleentheid in pragtige onthaalarea omskep.
Lizelle Nel, 'n voormalige Mej. Volkskool, het as geleentheidskunstenaar opgetree en die bekende RSG-omroeper, Jacques Arendt, was mede-aanbieder saam met GP Borcherds en Dané Thiart.
Drie beoordelaars het die moeilike taak gehad om die deelnemers in die verskillend kategorieë te beoordeel. Hulle was Arline Schutte, 'n skoonheidsterapeut van Alchemy Skin and Body, Porcia Hector, ook skoonheidsterapeut by Merino Apteek, en Kosie van Schalkwyk, 'n oudskolier en boer in die Aberdeen- en Murraysburg-distrik.
Elke deelnemer moes vooraf 'n kort video instuur waarin hulle hulself aan die beoordelaars bekendgestel het en ook 'n gesonde leefstyl moes uitbeeld. Elkeen moes ook 'n bemarkingsvideo vir Hoër Volkskool instuur.
Die aand het afgeskop met al twintig finaliste wat op die verhoog 'n regte country-lyndans gedoen het. Dit is gevolg met modeparade en die bekendstelling van die finaliste.
Tydens die geleentheid is daar ook Volksie-toekennings gemaak. Die aanddrag was ongetwyfeld die hoogtepunt van die aand en die meisies het die manne se asems weggeslaan. Die seuns het geensins teruggestaan nie.
Al die wenners van Hoër Volkskool se Mnr. en Mej. Volkskool. Van links: Marshall Kombella (tweede prins), Marco Jooste (eerste prins), Chuma Alberts (Mnr. Volkskool), Marni van der Merwe (Mej. Volkskool), en Petroné Fourie (tweede prinses).
Pryse is ook in ander kategorieë toegeken. Die finalis wat die meeste borggeld ingesamel het, was Samuel Pieterse. Dunzual Abrahams en Annelie Viljoen is onderskeidelik as Mnr. en Mej. Glimlag aangewys. Mia du Plessis is Mej. Bene en Marshall Kombella Mnr. Spiere.
Chuma Alberts is aangewys as Mnr. Persoonlikheid en Jana Muller as Mej. Persoonlikheid.
Ná die aankondiging van die kategoriewenners is die topvyf finaliste aangekondig waarna elkeen van hulle 'n vraag moes beantwoord. Die wenners is hierna aangekondig.
Die tweede prins was Marshall Kombella en tweede prinses Petroné Fourie. Die eerste prins was Marco Jooste en eerste prinses Jana Muller.
Mnr. Volkskool vir 2021 is Chuma Alberts en Mej. Volkskool Marni van der Merwe.
Die drie beoordelaars wat Hoër Volkskool se mooistes moes aanwys. Van links: Arline Schutte, Kosie van Schalkwyk en Porcia Hector.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'