GRAAFF-REINET NEWS - Hoër Volkskool se eerste netbalspan het tydens die April-vakansie deelgeneem aan die Arthur Johnson-sporttoernooi in Mosselbaai.
Tydens dié toenooi is 'n span gekies wat gedurende die September-vakansie aan 'n netbaltoernooi in Engeland gaan deelneem.
Twee van Hoër Volkskool se spelers is gekies vir hierdie span, by name Lykita Koeberg, 'n Graad 11-leerling en Lara du Plessis, 'n Graad 12-leerling. Ongelukkig is daar baie onkostes verbonde aan só 'n eer.
Om die finansiële las van die ouers te probeer verlig, het Hoër Volkskool verlede Vrydagaand 'n genotvolle steakaand aangebied. Sonder die borge en die ondersteuning van die gemeenskap, sou hierdie poging egter nie so suksesvol gewees het nie. Daarom wil die organiseerders van hierdie geleentheid gebruik maak om al die netbalspelers, skoliere, ouers en ondersteuners van Hoër Volkskool wat gehelp het om kaartjies te verkoop, wat kaartjies gekoop het en wat donasies gemaak het, te bedank.
Borge wat dié inisiatief bygestaan het, is Pioneers-restaurant, Kamdeboo Supermeat, Paul Steynberg, Mark vir die Huisvrou (Saverite), Huis Cronje en Meagan Edwards. Indien enige iemand nog 'n bydrae wil maak tot die fonds vir hierdie twee meisies, kontak gerus die skool vir meer inligting by 049 8910514.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'