GRAAFF-REINET NUUS — Daar is tans baie ge-sinne in Graaff-Reinet wat in werklike nood verkeer - in dié huishoudings is kos skaars, wat nog te sê van soetighede.
Danksy die ruimhartigheid van verskeie Graaff-Reinetters word sowat 50 behoeftige gesinne in die dorp maandeliks met lekkernye bederf.
‘n Interkerklike bybelstudiegroep, onder leiding van Ds Marnix Boersema, het dié projek vroeër die jaar van stapel gestuur ná een van die groep se lede, Carol-ann van Jaarsveld, die behoefte geïdentifiseer het en die inisiatief om dié dorp se armste inwoners maandeliks met lekkernye te bederf, voorgestel het.
Die groep het na die gemeenskap uitgereik vir skenkings waarna talle inwoners in die gees van welwillendheid hul toe verbind het tot ‘n maandelikse bydrae tot dié inisiatief.
Sedertien druk dié individue elke maand hand in eie boesem om ‘n pakkie lekkernye aan die geïdentifiseerde families te kan skenk.
Die skenkings wat ontvang word wissel van vars gebakte koeke en terte tot sjokolades en suiglekkers.
Met vele donateurs aan boord is dit nou huidiglik moontlik om weekliks talle bederfpakkies aan die dorp se behoeftiges te kan uitdeel.
Die weldoeners - waarvan daar tans 55 is - se bydraes word onderverdeel en in pakkies opgemaak om te verseker dat alles eweredig onder die begunstigdes versprei word.
Kaartjies, met bemoedigende Christelike boodskappe daarop verwoord, vergesel die pakkies wat dan deur Dianne Bertram, ‘n maatskaplike werker, aan die geïdentifiseerde gesinne uitgedeel word.
Die projek sit weekliks ‘n glimlag op die gesigte van menige inwoners wat baie min luukshede in die lewe het en getuig al die begunstigdes met ontvangs van die pakkies van die oop harte en hande van die gemeenskap.
“Sonder die borge se hulp sal dit net nie moontlik wees om hierdie individue só te kan bederf nie,” sê Ds Boersema, die leraar van die Gereformeerde Kerk. “Ons is geweldig dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning wat ons ten opsigte van dié projek vanaf die gemeenskap ontvang en moedig ons graag alle inwoners wat hierby betrokke wil raak om met ons te skakel.”
Vir meer inligting oor die projek, of om dié spesifieke projek te ondersteun, skakel vir Carol-ann van Jaarsveld by 082 336 5983.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'