ABERDEEN NUUS - Op 9 Desember het die VLV Aberdeen-tak aan die Siya Phambili-skuiling in Graaff-Reinet 'n skenking van handsakke gevul met toiletware oorhandig.
Siya Phambili is 'n skuiling vir mishandelde vroue. Die handsakke is gevul met noodsaaklike toiletware, linne, handdoeke en 'n bederfie of twee en word aan vroue wat by die skuiling opgeneem word, oorhandig.
"Mishandelde vroue wat hulle omstandighede ontsnap en by die skuiling aankom, het dikwels niks by hulle nie en geen onmiddellike toegang tot toiletware of handdoeke nie," sê Lea van der Vyver, voorsitter van die Aberdeen-tak.
"Die skuiling se naam beteken 'saam beweeg ons vorentoe' en dit is waarmee ons VLV-vroue probeer help - om die eerste treë vorentoe net ietwat makliker te maak."
Siya Phambili-skuiling het streng riglyne waaraan voldoen moet word wanneer 'n vrou daar opgeneem word. Dit verhoed dat persone wat nie werklik in nood is nie, die geriewe misbruik. Die skuiling se riglyne maak ook voorsiening vir moeders met babas of klein kindertjies. Tydens hulle verblyf by die skuiling ontvang vroue berading, hulp en toepaslike opleiding en bemagtiging om weer 'n lewe te bou, vry van mishandeling. Die skuiling is in 'n huis wat doeltreffend ingerig is.
"Dit is pragtig, baie skoon en netjies - voorwaar 'n veilige oase vir 'n mishandelde vrou en haar klein kindertjies. Om hierdie te kon doen, was beslis een van die hoogtepunte van ons VLV jaar," sê Van der Vyver.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'