KAROO NUUS - Die matriekeksamen is om die draai, en plaaslike leerders het reeds begin afskeid neem van hul onderskeie skole.
Asherville Sekondêr se matrieks kon hul ekstase nie inhou toe dit op die laaste Maandag van hul skoolloopbaan in die droë Karoo begin reën nie.
Die jubelende oomblik is vasgevang deur hul wiskundige geletterdheid onderwyser, Loy Bosch.
"Ons matrikulante is blootgestel aan omstandighede wat soms nie goed is vir leer nie. Vanjaar het hulle uitgestyg om hul beste te gee," het Bosch aan die Advertiser vertel.
Sy advies aan leerders vir die eindeksamen is om positief te bly en te fokus op hul drome.
Nqweba Sekondêr se skoolhoof, Zolile Malotana, wil graag hê sy leerders moet hard werk om goed te doen in die eksamen. "Daar is geen sukses sonder harde werk nie," het hy gesê. By Hoër Volkskool sal daar Vrydagoggend 11 Oktober tydens 'n spesiale funksie van die matrieks afskeid geneem word.
Die leerders was ook Dinsdag van plan om Donderdag prettig aan te trek: seuns soos meisies en meisies soos seuns.
"Gebruik elke geleentheid, organiseer en leer," was woordvoerder Suliza van Wyk se advies aan die gr. 12's. "Bly kalm, julle sal handhaaf!"
Union High het Vrydag 5 Oktober 'n tradisionele afskeidsfunkie ter ere van hul leerders gehad. Na die funksie het die matrieks die Eeufeesklok gelui, tee saam met hul ouers geniet, en deur 'n erewag uit die skool gestap.
"Ons wens die leerders alle voorspoed toe met hul voorbereidings vir die eindeksamen," het woordvoerder Mariëtte Burger namens die skool gesê.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'