GRAAFF-REINET NUUS - Die plaaslike Gemeenskapsveiligheidseenheid (GVE) het tydens die onlangse betogings by Vrygronde op die N9, vinnig 'n plan gemaak om motoriste uit die gevaarsone te kry.
GVE-lede het 'n krisis afgeweer deur die verkeer deur die nabygeleë Camdeboo Nasionale Park herlei.
Die GVE-taakspan se distrikskoördineerder in die Karoo, Harry Harmse, sê die GVE het, na hulle toestemming gekry het, die voertuie wat vir kilometers stilgestaan het, via 'n 10 km-ompad deur die park begelei tot waar hulle weer by die hoofpad kon aansluit.
"Ons lede het van die oggend 10:00 tot 16:00 die middag verseker dat motoriste nie stop of verdwaal nie. Ons het lede op sleutelpunte geplaas en alles het seepglad verloop."
Die GVE het talle lede regoor die streek en staan die polisie en gemeenskap by om misdaad te voorkom, misdadigers aan te keer en ook in enige noodgeval handjie by te sit.
"Ons is die grootste ondersteuner van die polisie en het 'n uitstekende verhouding met die wetstoepassers. Ons is almal gewone burgers en doen dit vir die liefde van die saak.
Die GVE speel 'n noodsaaklike rol in die gemeenskap."
Lede verrig dié liefdestaak op eie onkoste en die GVE is 100% afhanklik van vrywilligers se tyd en donasies van die publiek. Die GVE in Graaff-Reinet het sowat 70 lede.
Harmse sê die lede maak groot opofferings vir die gemeenskap aangesien die meeste voltydse werke of eie ondernemings het.
Om die GVE by te staan, kontak Harry Harmse by 082 623 2719.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'