GRAAFF-REINET NUUS - Die NG Kerk Graaff-Reinet se kerkgebou, in die volksmond bekend as die Grootkerk, se nuwe ligte bring dié historiese kerk nou ook na sononder tot sy volle reg.
Die neogotiese kerk is in die 1880's gebou met styl elemente van die Salisbury-katedraal in Engeland.
Die voorsitter van die instandhoudingskomitee, Otto Sparrius, sê die munisipaliteit is verantwoordelik vir die instandhouding van die ligte rondom die kerk, maar die plaaslike owerheid kan nie meer hul verpligting om die ligte in stand te hou nakom nie.
Die ligte was verouderd en toe twee van die ligte ophou werk, is die monument gedeeltelik in die donker gelaat. Vriende van die Grootkerk het toe nuwe LED-ligte gekoop.
Sparrius sê 'n toetslopie met een lig aan die oostekant van die kerk het goed gewerk, maar sommer gou het iemand die lig probeer steel. Die Vriende van die Grootkerk het toe houers vir die beveiliging van die ligte bekom.
Verskeie partye het saamgewerk en sowat twee weke gelede is die ligte gemonteer en gekoppel.
Nou wys dié internasionaal-bekende monument weer snags sy indrukwekkende gesig sonder donker kolle.
Die pragtige NG kerk in Graaff-Reinet, bekend as die Grootkerk, is ook 'n asemrowende gesig na sononder.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'