COLESBERG NUUS - Dalk die grootste dorpsfees in Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, se geskiedenis word later vanjaar gehou.
Philippolis sal oor 5 jaar sy 200ste bestaansjaar vier.
Dit is in 1823 gestig deur die Londense Sendinggenootskap as sendingstasie.
Die rede vir vanjaar se groot dorpsfees is dat die jaarlikse landbouskou vir die 90ste keer gehou word én dat die eerste algemene reünie van die Hoërskool M.T. Steyn in 16 jaar plaasvind.
Marnie van Wyk, oud-hoofmeisie en nou 'n vakadviseur vir kuns by die Vrystaatse onderwysdepartement, wou 'n reünie reël vir 1988 se matrieks omdat hulle 30 jaar gelede uit die skool is.
"Die belangstelling was egter so groot dat die 1987 en 1989 se matrieks ook wou meedoen. Toe van die ander oud-leerlinge, die Zebras, daarvan hoor, wou hulle ook kom."
Die skool staan nou bekend as die Hoërskool Philippolis, maar tot in 1993 is daar in streeptruie soos die WP s'n rugby gespeel en só het hulle die bynaam Zebras gekry.
'n Opname op die Facebook-blad, Oud Zebra Reunie 2018, toon dat minder as 10% van die Zebras nog in Philippolis woon. Die hoofrede is dat daar nie genoegsame werksgeleenthede in die platteland is nie.
Die reëlingskomitee vir die reünie bestaan uit adv. Jens Friis, oud-redakteur van Bloemnuus wat nou in Johannesburg woon, Marnie van Wyk, Rina Coetzee van Prieska en Maritha de Beer van Pretoria.
Daar word nou saamgewerk met ander oud-leerlinge, Philippolisers, die skou en die kerke om dié dorpsfees moontlik te maak.
Colette Loock van die skoukomitee sê Zebras wat reüniekaartjies koop, sal verniet toegang tot die skou kry op beide 2 en 3 November. "Ons is bly dat daar soveel meer voete by die skou gaan wees."
Terwyl die meeste plattelandse skoue kwyn of reeds doodgeloop het floreer Philippolis s'n steeds na al die jare - veral weens goeie leierskap.
Die reünieprogram begin op Vrydag, 2 November, maar strek 'n dag langer as die skou tot Sondag, 4 November, wanneer dit afgesluit sal word met 'n lofprysingserediens, loslating van duiwe en 'n teeparty.
Dr. Carin van Schalkwyk is die leraar van die NG gemeente Philippolis en Nicolene Gibbons die orreliste.
Zebras word versoek om vooraf kaartjies te koop. Dit maak veral die beplanning vir kos baie makliker.
Daar sal lekker gekuier en geëet kan word op die Vrydagaand met die opening.
Die Saterdag-ontbyt is by die Bird's Haven-gastehuis van Annelie en Louis Blom, oud-leerlinge, waarna die Bult aangedurf sal word in 'n pretstap. Zebras moes altyd teen dié heuwel oefen vir landloop.
Daar sal 'n draai gemaak word by die skool en koshuis. 'n Reünie-toerismeroete deur die historise dorpskern word beoog wat waarskynlik sal begin by die sir Laurens van der Post-gedenksentrum en sal eindig by die Gereformeerde kerk.
Deel van die reünie-pakket is 'n steak-ete. Maritha Strauss sal seker maak dat reünie-gangers se mae lekker vol is by die skou. Laat weet vooraf as jy 'n vegetariër is, want 'n steak-ete word beplan.
Die Saterdagaand hou Jan Rhaap konsert. Na afloop daarvan sal daar ook gedans kan word op sokkiemusiek uit die Zebras se skooljare.
As jy meer wil weet van die reünie, skryf aan mtsteyn@outlook.com of loer op die bogenoemde Facebook-blad. Die skou se blad is: Philippolis show / Philippolis skou.
'Ons bring jou die nuutste Colesberg, Karoo nuus'