KAROO NUUS - Die eerste rugbyspan van Hoër Landbouskool Marlow het oor die Paasnaweek, van Donderdag tot Maandag, aan die Kearsney College Paasrugbyfees in KwaZulu-Natal deelgeneem.
Kearsney College is 'n hoogaangeskrewe privaatskool in die klein dorpie Botha's Hill tussen Durban en Pietermaritzburg.
Marlow se mediabeampte, Vicky Scheepers sê die rugbytoernooi is 'n lekker platform om Marlow se spelers bloot te stel aan die Sharks se keurders wat al die spelers met 'n arendsoog bekyk.
Die fees het Donderdag egter nie goed vir Marlow begin nie, en die skool het sy eerste wedstryd 22-10 teen Glenwood High van George verloor.
Groot skrik
Saterdag het Marlow egter baie beter gevaar en Worcester Gimnasium 30-15 gewen. Maar die vreugde was gedemp want net drie-en-'n-half minute voor die eindfluitjie sou blaas het twee van Marlow se topspelers op hoë spoed gebots.
Die heelagter, SJ de Koker en impakagterspeler, Geard Loesch het albei doodstil bly lê. Noodhulpspanne was vinnig op die toneel met die spelers se ouers wat angstig bygestaan het.
Die seuns is per ambulans na Hibiscus Privaathospitaal geneem vir skanderings, maar aangesien dié hospitaal nie oor 'n intensiewesorgeenheid beskik nie, is hul oorgeplaas na die Almed Al Kadi Privaathospitaal waar daar ook MRI skanderings gedoen is.
Die seuns moet binne vier weke vir opvolgondersoeke na neuroloë gaan.
Byna, maar eina
Die laaste wedstryde is Maandag 10 April gespeel, maar Marlow het 32-25 teen Hoërskool Durban verloor, na hulle slegs een minuut voor die einde van die wedstryd gelykop was met 25 punte elk.
SJ de Koker, heelagter van Marlow het 'n skouerbesering en harsingskudding opgedoen nadat hy teen spanmaat Geard Loesch gebots het.
Hoër Landbouskool Marlow se hoofseun, Conrad Botha, sterk op die aanval tydens die wedstryd teen Worcester Gimnasium.
Marlow impak agterspeler, Geard Loesch, het ñ harsingskudding en nekbesering opgedoen tydens ñ wedstryd by die Kearsney College Paasrugbyfees. Foto's: Vicky Scheepers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’