GRAAFF-REINET NEWS - Gestig in 2000 deur Hannes van Jaarsveld, vier Montego Pet Nutrition in 2017 hul 17de bestaansjaar.
Behalwe vir hul talle projekte in die gemeenskap, is hul natuurlik ook konstant besig om self uit te brei, altyd met die doel om van wêreldgehalte te wees.
In 2010 het Montego met ’n reuse 4-fase projek begin.
Hierdie projek is nou reeds op sy laaste twee fases, waar Montego na implementering beoog om kapasiteit met 1600 ton per maand te vermeerder.
Na aanvanklike beplanning is ABSA in 2015 as finansierders benader vir fase 3 en -4 wat ’n koste van meer as R50 miljoen beloop en in Junie 2016 is daar begin met die uitvoer van fase 3.
Hierdie fase sal in Maart 2018 voltooi wees en die laaste fase in Augustus 2018.
In samewerking met Dalein Agriplan (’n ingenieursfirma van Pretoria) is verskeie toerustingvervaardigers van Europa deur die Direkteure van Montego besoek en verskeie masjinerie is van Nederland en Duitsland onderskeidelik in die projek geïnkorporeer.
Hierdie masjiene is van die nuutste tegnologie ter wêreld en behou die plaaslike besigheid aan die voorpunt van troeteldiervoeding vervaardiging in Suid Afrika.
Hyskrane op die perseel
Die reuse 250-ton hyskraan wat op 13 Desember te siene was by Montego, was vir die dag daar om ‘n nuwe 'liquid coater' te installeer.
'n Vlekvrye staal sif afkomstig van Key Technologies in Nederland.
Twee 30-ton trokke was ingespan om die hyskraan se teen-gewigte van 48 ton Graaff-Reinet toe te bring. Die kleiner 40-ton kraan wat vanaf November al te siene is, sal voortgaan met werk tot en met 24 Desember.
Montego is ook besig met die oprig van ’n massiewe 3 600m² gebou, oorkant Camexo.
Een helfte van hierdie gebou sal gebruik word as ’n stoor vir verpakkingsmateriaal en produkte wat nie by Montego self vervaardig word nie, soos byvoorbeeld die sous en natkos reekse.
Die ander helfte sal ’n nuwe 'semi-moist treat' produksie-lyn huisves, die nodige masjiene hiervoor is bestel en sal vanaf Februarie 2018 in werking tree.
Wat interessant is van hierdie gebou, is dat dit deur middel van ’n 500kW sonkragstelsel aangedryf sal word wat op die gebou se dak geïnstalleer word.
Hierdie R20 miljoen projek is tans in beplanning met samewerking tussen Montego en Nedbank.
Montego Pet Nutrition wil graag dankie sê aan die gemeenskap vir hul lojale ondersteuning, “sonder julle sal hierdie projekte nie moontlik wees nie en ons sien uit na ’n blink toekoms vir beide die besigheid én die dorp se positiewe ontwikkeling”.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'