GRAAFF-REINET NUUS - Johnny Green, boorling van Graaff-Reinet, oudskoolhoof van Asherville Sekondêr en ouderling van die AGS Kroonvale, is Saterdag 17 Februarie vanuit die AGS Kairos bediening in Bergendal begrawe.
Green of ‘Pappa’ soos die leerders van Asherville hom genoem het, is op 30 April 1955 gebore en op 7 Februarie oorlede. In 1973 begin hy standard 6 (gr. 8) by Spandau Sekondêr en matrikuleer in 1977.
Hy voltooi ‘n BA-Sekondere Onderwys Diploma aan die Universiteit van Wes-Kaap in 1981 asook sy honneurs in onderwys.
In 1982 begin hy by sy alma mater, Spandau Sekondêr as Afrikaans-onderwyser en word kortliks daarna tot departementshoof van tale by Asherville Sekondêr bevorder.
In 1994 word hy tot skoolhoof van Asherville bevorder en in die jare dat hy Afrikaans by Asherville gegee het, het die skool sy beste uitslae getoon.
Verskeie persone by die begrafnis het Green as 'n formidabele, pligsgetroue, liefdevolle mens, wat vir sy gesin, familie en gemeenskap gelewe het, beskryf, maar dat hy ook streng en gedissiplineerd was.
Almal was dit eens dat Green sy alles vir sy gemeenskap gegee het. Daantjie Japhta, vriend van Green, oudburgemeester, medeouderling en oudskoolhoof van Narsingstraat Skool, het 'n gedig aan Green geskryf.
Daarom Sê ons Trots!
Ons kom groet jou Johntas!
Ons begrawe jou met trots
Want jy was ons rots
Jy het ons die pad gewys
Toegewyde steunpilaar
Vertroueling
Ons planmaker,
Ons ouderling
Militêre strategies
Jy strik vir niks
Vegter vir die reg
Vriend deur dik en dun
Vriend der duisend
Man van jou woord
Jy piets almal wat stout is
Jy stoot hulle uit die pad
Jy vat hulle na die hoogste hof
Jou onwrikbare geloof in God
Gee jou die grootste lof
Jou medemens help jy vrylik
Sonder om te verwag
'n Hoë premie plaas jy op jou vriendskap
'n Ware vriend in nood was jy
Wyd belese man was jy
Met geesdrif het jy ons gelei
By die huis, by die Kerk
Jou gemeenskap
En die Skool te saam
Daarom, as ons jou vandag begrawe
Jou na jou rusplek dra
Sê ons met trots Johntas
Jy het mooi geloop ou vriend
Hamba Ka Kuhle, Samaya hantle
!Gaise !gu re, Ti elob kaise akai
Kai gangans
Johnny Green laat na, sy eggenoot, vier kinders, vyf kleinkinders, en ‘n breë familie en vriendekring agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’