ABERDEEN NUUS - Plaaslike parlementslid Samantha Graham-Maré was Vrydag, 23 Oktober, 'n eregas by Aalwynhof-tehuis op Aberdeen, waar die tehuis se nuwe braaigeriewe ingewy is.
Nie eers die 40°C kon die opgewondenheid van die inwoners en personeel demp nie. Dié is al vroeg-vroeg wakker om deel van die opgewondenheid te wees.
Graham-Maré is verwelkom deur Donnie Erlank, voorsitter van die Inwonerskomitee.
Hy het haar bedank vir haar belangstelling en toewyding vir Aalwynhof. Die tehuis se eie isiXhosa-koor het toe, in tradisionele-drag, die gaste en inwoners betower met gesang.
Aalwynhof se hoof van huishouding, Karin van den Heever, het daarna 'n langdienssertifikaat ontvang. Van den Heever werk reeds 30 jaar ononderbroke by Aalwynhof. Graham-Maré het die sertifikaat aan haar oorhandig en Van den Heever is bedank vir haar volgehoue toewyding.
Daar was ook iets spesiaals vir eregas Graham-Maré: 'n unieke glasbordjie, gemaak deur Aberdeen-kunstenaar, Marguerite Benecke. Dit is deur Aalwynhof se bestuurder, Nico Kemp, aan Graham-Maré oorhandig.
Na die formaliteite het almal.gesmul aan braaigeregte, slaai en vetkoekies. Vir nagereg was daar 'n skenking van heerlike roomys. Die kersie op die koek na 'n warm, spesiale dag.
Karin van den Heever (agter, tweede van links) werk al reeds 30 jaar by Aalwynhof. Hier is sy saam met die tehuis se koor.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'