GRAAFF-REINET NUUS - Annelie Pieterse is ’n gedugte gr. 12-leerder van Hoër Volkskool wat deur toewyding, harde werk en deursettingsvermoë op elke vlak presteer.
Ondanks die gr. 12-eindeksamen het die HVS duxleerling van 2022 ook voorberei vir die Africa Genesis Archery World Virtual Tournament (AGA WVT) wat op 10 Desember in Emalahleni, Mpumalanga, plaasgevind het.
Hierdie toernooi het ‘n deurnagskiet behels vanaf 17:00 tot 01:00 en het sy die AGA-SA nasionale senior span as onderkaptein verteenwoordig waar hul teen spanne van Namibië, Botswana, Zimbabwe en Kanada deelgeneem het. Pieterse het derde geëindig onder die senior vroueskuts en stap Suid-Afrika ook met die louere weg. Dit is ook die eerste keer dat sy ‘n voltal 100 punte op een teiken skiet.
Boogskiet sal Pieterse altyd na aan die hart lê en is dit haar toekomsvisie om eendag ‘n boogskietklub te begin om blootstelling te bied vir leerders in Graaff-Reinet en omliggende omgewing.
Die sport het haar waardevolle lewenslesse geleer, die beste in haarself uitgebring en die motivering gebied om haarself voluit daaraan toe te wy.
Pieterse het vanjaar die prysuitdeling by HVS oorheers het met onder andere veelsydigste leerder in gr. 12 en die skoolhoof prestige toekenning vir uitsonderlike prestasie in boogskiet op nasionale en internasionale vlak.
Daar is niks wat Pieterse weerhou van haar ambisies nie en ondanks finansiële struikelblokke druk sy deur danksy die geloof wat bekende onderwyser, Beyers Cronjé, in haar het. Hy het seker gemaak dat sy haar vaardigheid en liefde vir die sport kom slyp en met ander deel.
2023 gaan nie ‘n stil-sit jaar vir Pieterse wees nie. Sy gaan by die onderskeie veeartsklinieke werk om eerstehandse ervaring op te doen voor sy in 2024 veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus gaan studeer.
Haar wens is om haarself as wildsveearts te bekwaam en natuurlik boogskiet te beoefen en te bevorder as skoolsport.
Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'