OOS-KAAP NUUS - Daar het die afgelope naweek wydverspreide reën oor die noordelike dele van die Oos-Kaap uitgesak.
Berigte van oorstromings tussen Steynsburg en Venterstad het Vrydag reeds die ronde gedoen en luidens inligting op sosiale media is daar op plase in dié gebied tot 120 mm ná een neerslag gemeet.
Die roete tussen Venterstad en Steynsburg was vir 'n wyle gesluit omdat water bo-oor die pad gestroom het. Vanuit De Aar berig Wilma en Pieter Strauss ook 'n goeie neerslag, vir die eerste keer in sewe jaar. Hulle het Saterdag 78 mm gemeet, en sedert November het hulle reeds 300 mm gemeet. Die dam voor hul huis is tot oorlopens toe vol, 'n pragtige gesig. Tussen Noupoort en Middelburg deel die Visser-gesin mee dat hulle 99 mm in een sterk bui gehad het en dat die hele plaas gebaat het by hierdie neerslag.
Die pad tussen Noupoort en Middelburg was ook vir ‘n wyle onder water na die hewige reënbui.
Daar is nie soveel reën in Cradock gemeet nie en gemiddelde reënval het oor Molteno en Hofmeyr uitgesak. In die noordelike deel van die Hofmeyr-distrik is tot soveel as 63 mm aangeteken, met 'n gemiddelde neerslag van rondom 20 mm.Piet Roux deel ook mee dat hy 50 mm op Houwkuilen gemeet het, wat teen die Vlekpoortrivier geleë is. Geen skade is deur hierdie neerslae aangerig nie. Boere is dit eens dat die veld nog in ‘n groeifase is en dat dit oral lowergroen vertoon. Motte is sigbaar en kan ruspers tot gevolg hê, maar daar is in hierdie stadium nie enige sprinkane in die omtrek nie.
'Ons bring jou die nuutste Oos-Kaap nuus'