CRADOCK NUUS - Hugo Barendse is die trotse eienaar van ‘n pragtige pikswart labrador, Astro, wat as sy gidshond dien. Hugo is gesiggestremd en is werksaam by die firma Eastcare in Cradock.
"Hugo neem Astro gereeld op uitstappies, want Astro moet immers fiks bly," vertel sy pa, Hugo Barendse sr.
"Ongelukkig is Astro die afgelope Sondagmiddag deur 'n loslopende hond in een van die strate aangeval."
"Beide Hugo en Astro was baie ontsteld ná die voorval en ons moes Astro onmiddellik na die naaste veearts neem vir 'n volledige verslag. Die Nasionale Instituut vir Gidshonde van Suid-Afrika dring ook daarop aan dat sulke aanvalle op gidshonde nie geduld sal word nie. Daarom is daar ook 'n saak by die plaaslike polisie aanhangig gemaak."
"Astro is 100% gesosialiseer wat beteken dat sy geen hond sal aanval nie. Sy is ook permanent op haar leiband wanneer sy Hugo vergesel en sy dra ook haar harnas. Die weerkaatsende harnas is aan Astro geskenk is deur More4Less in Cradock en Jacques van Nuwenhuys het dit gemaak. Die harnas is tydens die aanval aan flarde geskeur.
VERWANTE ARTIKEL | Astro is Hugo se oë
"Ongelukkig het hierdie gebeurtenis veroorsaak dat beide Astro en Hugo nou baie senuweeagtig is om buite hul erf te beweeg en dit gaan 'n geruime tyd vir hulle neem om weer met selfvertroue hul daaglikse roete na Hugo se werk te stap."
Hugo Barendse met sy hond, Astro.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'