HOFMEYR NUUS - Die geskiedkundige Jerusalem-sipresheining rondom die NG kerkgebou in Hofmeyr is Dinsdagmiddag heeltemal vernietig nadat twee agtjarige kinders speel-speel 'n vuur gemaak het en die heining vlamgevat het.
Dié sipresheining is oorspronklik rondom die kerk geplant nadat daar saailinge gekweek is van die drie Jerusalem-sipresse wat voor die oorspronklike NGK-pastorie in die destydse Waterstraat, (nou Du Plessisstraat) langs die watervoor geplant was en waarvan nog net twee bome oor is.
Die eerste NG kerkgebou in Hofmeyr is in 1875 gebou en is Jerusalem-sipresse daar geplant.
Met die groei in gemeentegetalle is daar in 1933 'n groter kerk gebou en moes dié bome verwyder word. Die oorspronklike kerkgebou se hoeksteen is in die huidige kerkgebou ingemessel.
Op sekuriteitskameras kan duidelik gesien word hoe die brand ontstaan en die heining, wat die kerk omring het, vernietig word.
Talle inwoners het opgedaag om die brand te probeer blus, maar Jerusalem-sipresse is hoogs vlambaar en hul pogings het misluk.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'