BURGERSDORP NUUS - 'n Historiese winkelgebou, wat sewe besighede gehuisves het, is Vrydagaand in Burgersdorp deur 'n vernietigende brand verwoes.
"Die eiendom is al vir drie generasies in ons familie se besit," deel 'n geskokte Grania van der Walt. Die gebou is oorkant die NG Kerk wat onlangs in 'n brand beskadig is.
Inwoners is spoedig na die toneel om te probeer om die brand te blus, wat vermoedelik in die agterste gedeelte van die winkelkompleks ontstaan het.
"Die versekeringsassessor sal moontlik eers volgende week met ondersoeke kan begin om te bepaal waar presies die brand ontstaan het," verduidelik Brent Pagel, 'n besigheidseienaar van Burgersdorp.
Die poskantoor en OVK geboue wat weerskante aan die kompleks grens, het slegs kragprobleme ondervind vroeg Saterdagoggend, maar daar is geen berigte van brandskade nie.
Só het die geskiedkundige gebou jare gelede gelyk.
Die inhoud van die winkeltjies en besighede wat in die kompleks bedryf was, is egter in totaliteit vernietig, en elkeen van die besighede sal hul skades afsonderlik bepaal.
Op die stadium is winkeleienaars nog nie beskikbaar vir onderhoude of om inligting rondom die skade te gee nie.
Die gebou na die brand.
'Ons bring jou die nuutste Burgersdorp, Karoo nuus'