OUDTSHOORN NUUS - Die liefdadigheids-organisasie, Sport Buddy Charity, het verlede week meer as 200 kinders se harte verbly toe hulle lukraak speelgoed in 'n Bridgton-woonbuurt uitgedeel het.
Volgens die stigterslid van die organisasie, Wyndham Ewerts, was hierdie verrassings-inisiatief een van vele wat Sport Buddy in die skoolvakansie van stapel gestuur het.
Ewerts vertel dat hy en sy span ook in Desember 'n heerlike Kersete met lekkernye en sap asook netjiese klere vir die kinders sowel as grootmense in die informele Hopeville-woonbuurt uitgedeel het.
"Ons groot motivering wat ons elke dag dryf in die organisasie se amper vyf jaar oue bestaan is om glimlagte op oud en jonk se gesigte te sit. Om te sien hoe aangenaam verras mense is wanneer ons doen wat ons doen gee my elke keer hoendervleis.
Byvoorbeeld die geskenke wat ons in Januarie uitgedeel het: Sowat 80% van die kinders wat geskenke ontvang het kan ek met sekerheid sê het nie vir Kersfees 'n geskenkie van hul ouers ontvang nie.
Vir hulle om nou in 'n uitdagende maand soos Januarie 'n ordentlike kar of trokkie of pop te ontvang was 'n aangename verrassing met baie van die kinders wat so opgewonde was dat hulle daar en dan sommer met hulle speelgoed begin speel het. Ondanks die vele uitdagings van Januarie kon ons ook 'n heerlike maaltyd van hoenderkoolbredie voorsit."By Sport Buddy se jaarlikse Kersprojek in Hopeville gedurende Desember 2021 is lekkernye, kolwynjies, sap, klere en kos aan die gemeenskap uitgedeel.
Volgens Ewerts is Sport Buddy se mikpunt om veral in Januarie ten minste vier keer per week in verskillende areas in Oudtshoorn voedsel te verskaf omdat meeste huishoudings alreeds swaar trek met skooluitgawes.
Hierdie voorneme is goed op dreef met Sport Buddy wat sedert die aanvang van Januarie reeds sowat 10 voedselverspreidingsuitreikings moontlik gemaak het.
Benewens hierdie voorneme, deel Sport Buddy konstant vir die afgelope amper twee jaar minstens twee keer per week voedsel in Oudtshoorn se woonbuurte uit.
Hy het veral sy dank uitgespreek teenoor sy borge en donateurs wat hierdie weeklikse gemeenskapsuitreikings moontlik maak.Regs is een van Sport Buddy se kokke, Tessa de Villiers, besig om 'n maaltyd vir gemeenskap voor te sit.
Persone wat betrokke wil raak kan Ewerts by 084 025 6698 skakel of WhatsApp.
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'