GRAAFF-REINET NUUS - Gemeentelede van die Graaff-Reinet Gereformeerde kerk, onder leiding van ds. Marnix Boersema en sy vrou, Clarinda, het Saterdag 15 Mei, in grendeltyd 'n potjiekosdag virtueel saam geniet.
Morné en Izienne van Jaarsveld het met die idee vorendag gekom om aan gemeentelede, wat nie alleen potjiekos kan maak nie, nie spasie of geriewe daarvoor het nie, of tydens grendeltyd 'n behoefte aan lekker potjiekos het, elk 'n bord van dié gesogte kos te voorsien.
Gemeentelede het tuis vure aangesteek, en soos die hout begin brand het en die potte begin prut het, is foto's en boodskappe onder mekaar versprei.
Die wat gewag het vir hul aflewering het ook gedeel in die pret en op hul beurt foto's geplaas van hoe hul tafels voorberei is, in afwagting op die maaltyd.
Die predikantspaar moes ook inspring en pot maak.
Foto's van kinders wat speel, klankopnames van musiek en die vrolikheid van die dag is heeldag op WhatsApp gedeel. Die begunstigdes het self gedeel in die virtuele pret en kommentaar gelewer op die potmakers se vernuf.
Die plaaslike toerisme-industrie se bekende Toerboer, Dawid de Wet, het sy ervaring in die toerismebedryf ook met die maak van meer as een pot gedeel.
Toe die potte klaar was het die kokke die geregte mooi verpak en toegedraai met beskermde materiaal, en op voorafbespreekte plekke neergesit, om by die reëls van grendeltyd te hou. Koeke, nageregte en ander lekkernye is ook op die aangewese plekke geplaas.
So het die gemeente 'n dag saam geniet, sonder om hul te bekommer oor die handhawing van veilige afstand.
Soos elke Sondag tydens die grendeltyd, het die gemeente Sondag elkeen vanuit sy eie woning na 'n preek van Boersema aanlyn gekyk.
Die potjiekos is mooi verpak vir aflewering.
Die Van Jaarsvelds se potte gereed vir opskep.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'